Finansiering vir klein besighede: Hier is hoe Brooklyn in New York dit doen

05 Mei 2020

Brooklyn, ‘n New York-voorstad met 2.8 miljoen inwoners, is die voorstad in die VSA met die grootste hoeveelheid Koronavirus-sterftes en verkeer sedert 13 Maart reeds in ‘n inperking. Terwyl die mediese krisis nou stabiliseer en inwoners oor die afsterwe van meer as 4 000 geliefdes rou, werk die Brooklyn-sakekamer meedoënloos om klein besighede, wat hulle as die hart van hierdie voormalig industrie-gedrewe stad beskou, weer op die been te bring. Dit is nie ‘n maklike taak nie, maar die struktuur van hulle sakekamer laat hulle toe om dit te doen. Randy Peers, voorsitter en Hoof Uitvoerende Beampte van die Brooklyn Chamber of Commerce (BCC) het met Dirk Scheepers, Hoof van Bedryf en Finansies by Sakeliga, gesels oor die werksaamhede van die BCC. Scheepers, wat vir 10 jaar as handelaar en bestuurder op Wall Street gewerk het en dus met die BCC se landskap vertroud is, het deurentyd raakpunte met dit wat die BCC vanuit die VSA doen, en dit wat Sakeliga andersyds vanuit Suid-Afrika doen, geïdentifiseer. Die BCC en Sakeliga het ook ooreengekom om nouer saam te werk in die toekoms. Die BCC is ook nou gelys op die Sakeplein Sakekamer blad. Kontak gerus affiliasie@sakeliga.co.za indien jy as Sakekamer-lid in kontak wil tree met Sakeliga en ook wil saam werk aan ons poging om ‘n selfstandige sakegemeenskap sonder grense te stig. 

Die BCC is ‘n merkwaardige 102 jaar oud, en Peers beskryf hulle as ‘n “tipiese sakekamer in die VSA”. Met ‘n fokus op bevordering en ondersteuning van die sakegemeenskap in Brooklyn, het hulle 16 000 lede en is die stem van die Brooklyn-sakegemeenskap. Peers meen dat ‘n sakekamer wat veral klein besighede ondersteun noodsaaklik in ‘n kleinsake-ekonomie soos die een in Brooklyn is, waar 84% van besighede minder as 10 werknemers het. “Dit is ‘n baie diverse…gemeenskapsgedrewe sake-omgewing”.  

Hoe help BCC nou?
Peers verduidelik dat verskeie ondernemings nie kwalifiseer vir lenings by groot banke nie – ook nie nou tydens die Koronavirus-krisis nie. Vir hierdie rede het BCC die Brooklyn Alliance Capital (BAC) – ‘n finansiële instelling vir gemeenskapsontwikkeling – in die lewe geroep om kleiner besighede te ondersteun. BAC is op voetsoolvlak, gemeenskapsgeöriënteerde finansiering van besighede geskoei en tree as’t ware soos finansieringsinstellings op vir besighede wat nie gewoonweg toegang tot kapitaal verkry nie. Omdat Brooklyn se ekonomie gemeenskapsgedrewe is, kom dit daarop neer dat inwoners deur middel van skenkings aan die BAC hul gunstelingbesighede en belangrike verskaffers kan red. Die lenings wat BAC beskikbaar maak is relatief klein – min oorskry $10 000. Maar volgens Peers beteken hierdie relatief klein uitbetalings die verskil tussen of ‘n besigheid weer deure oop sal maak ná die krisis of nie. Op hierdie manier vul die BCC ‘n kritieke leemte in die finansieringsekosisteem van New York. 

Hoe lyk die toekoms?
Peers glo dat finansiële instellings vir gemeenskapsontwikkeling soos die BAC nou ‘n baie groter rol as ooit vantevore gaan speel. Verskeie kleinsakeondernemings is reeds uitgesluit wanneer dit kom by die staatsfonds vir besighede, en hulle sal toenemend steun put uit sakekamers en gemeenskapsfondse om hulle deure te kan oopmaak en oophou. Volgens ‘n peiling deur die BCC was 85% van besighede wat vir ondersteuning van die federale regering aansoek gedoen het, onsuksesvol. Voorts voorspel die BCC dat 35% van besighede in Brooklyn nie weer hul deure sal oopmaak nie. Die BAC het weliswaar ‘n $125,000 toelaag van die staat ontvang, waaroor hulle baie dankbaar is, en hulle visier is nou op die insameling van tot ‘n miljoen dollar se nuwe kapitaal om klein besighede te ondersteun. 

Deur middel van die BAC se Bring Back Brooklyn Fund – ‘n skarebefondsingsinisiatief – gaan hulle rentevryelenings voorsien om besighede toe te laat om toegang tot kapitaal te verkry teen geen addisionele koste. Die idee agter hierdie fonds is dat donateurs hulle gemeenskappe kan red deur klein besighede, wat die hart van die gemeenskappe uitmaak, te red. Hierdie tipe hulpverlening is egter geen vreemde konsep vir die BAC nie: hulle het in 2019 meer as 350 klein ondernemings in die vorm van kapitaal- en tegniese bystand ondersteun. Die Bring Back Brooklyn Fund word spesifiek toegewy aan besighede wat nie oor die algemeen kwalifiseer vir kommersiële lenings nie, deur die krisis belemmer is, en beplan om hulle besighede weer in Brooklyn oop te maak. Op die einde van die dag lyk dit nie of klein besighede in Brooklyn gaan regkom by die staat nie, en die BAC onder Peers se voorsitterskap beskou hulle werksaamhede as insidenteel tot die lot van klein besighede in die gemeenskapsgedrewe ekonomie van Brooklyn. 


Ander nuus