Sakeliga verwelkom moontlike ommekeer oor warm kos, maar bly besorg oor regulatoriese oordaad

25 Apr 2020

Sakeliga verwelkom toegewings oor die verkoop en aflewering van warm kosse wat die regering vandag aangekondig het. Dit volg op Sakeliga se voorstelle en eise in hierdie verband aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DHNM). Die verslapping van onwettige, skadelike en onafdwingbare reëls met betrekking tot kosaflewering sal die publiek se toegang tot kos en indiensname baie verbeter.

Ondanks hierdie bemoedigende verwikkelinge is Sakeliga egter van mening dat die voorgestelde regulasies steeds oordadig is.

Suid-Afrika loop tans die risiko van ‘n ekonomiese en maatskaplike ramp. Geen hoeveelheid stimulus kan ‘n heropening van die ekonomie – onderhewig aan risiko-beperkings eerder as prohibisies op sektore en produkte – vervang nie. Die ekonomie sal net voldoende kan herstel as ons besighede uit alle industrieë toelaat om rondom risiko’s te innoveer, hul bedrywighede teen enige winsgewende vlak te hervat, en om enige produkte aan hul klante te lewer. Die voorgestelde regulasies is ongelooflik kompleks en sal onmoontlik wees om aan te voldoen – selfs vir besighede of lede van die publiek wat in goedertrou optree.

Sakeliga sal nou die voorgestelde regulasies bestudeer, met die oog op finale insette voor promulgasie volgende week, waarna dit verdere stappe sal oorweeg soos nodig. Vir meer inligting oor Sakeliga se vereistes vir veranderinge aan die inperkingsregulasies en sy voorstelle aan die DHNM, kyk hierdie memorandum.

The post Sakeliga verwelkom moontlike ommekeer oor warm kos, maar bly besorg oor regulatoriese oordaad appeared first on Sakeliga.


Ander nuus