Sakeliga steun vooraanstaande ekonome se plan om die ekonomie oop te stel – veilig 

22 Apr 2020

Die sakeorganisasie Sakeliga en verskeie sakekamers het aangekondig dat hulle steun gaan verleen aan ’n ekonomiese strategie wat deur ’n aantal vooraanstaande Suid-Afrikaanse ekonome en maatskappye voorgestel is.

Die plan, opgetrek deur ETM Analytics en ETM Macro Advisors, is ’n drastiese afwyking van bestaande beleidsrigtings. Pleks van “nienoodsaaklike” ekonomiese aktiwiteite te verbied, identifiseer en verbied die plan riskante gedrag.

“In die lig van die naderende einde van die landwye inperking is dit belangrik dat openbare gesprekvoering oor ons strategie ná die inperking so gou moontlik begin. Sakeliga dink hierdie plan bied ‘n uitstekende benadering vir ’n veilige herbegin van ekonomiese aktiwiteit,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Hoewel SARS-CoV-2 ’n ernstige bedreiging vir die gesondheid van mense inhou, toon die inperking dat ekonomiese disintegrasie ook die potensiaal het om dood te maak. As ons nie versigtig is nie, kan die situasie net vererger – selfs nadat die inperking opgehef is.

“Ons plig is om menselewens te beveilig,” sê le Roux, “en as ons mense teen ekonomiese ondergang wil beskerm, moet ons ’n manier kry om die ekonomie vinnig, veilig en verstandig oop te stel.”

Die plan, wat reeds deur die prominente ekonome Dawie Roodt en Mike Schussler gesteun word, behels ’n nuwe risikogebaseerde benadering tot die oopstel van die ekonomie.

Sakeliga is van mening dat die regering se bestaande benadering fundamenteel gebrekkig was. Pogings om “noodsaaklike” goedere en dienste te identifiseer, skep verskeie probleme – en stel die regering aan erge kritiek bloot.

“Die probleem met die regering se benadering tot dusver is dat dit spesifieke sektore van die ekonomie uitdruklik moes toelaat om te funksioneer. ’n Ekonomie – en die behoeftes van die mense daarin – is egter heeltemal te kompleks vir hierdie soort regulering.

“Die gevolg van hierdie beleid is dat die regering babaklere verbied, die verkoop van warm kos verbied, verskeie besluite moes herroep en dan – enkele dae later – alles weer herbedink van voor af. Dit was erg genoeg tydens die inperking, waartydens net sekere sakeondernemings toegelaat is om te funksioneer. Kan jy jou die chaos voorstel as jy probeer om ’n hele ekonomie op hierdie wyse te reguleer?”

Volgens die beleidsvoorstel sal die regering, pleks van “noodsaaklike” goedere en dienste te identifiseer, net riskante gedrag hoef te bepaal – soos versuim om fisiese afstande te handhaaf of om ontoereikende beskermende toerusting vir personeel te verskaf.

Sakeliga sê die beleid sal vir die regering ’n manier bied om sy plig te doen om risiko te beperk, terwyl hy steeds op die privaat sektor reken vir kreatiewe oplossings. Sakeondernemings wat riskante gedrag kan uitskakel, sal toegelaat word om te funksioneer – of sal gesluit bly as hulle dit nie kan doen nie.

“Die regering se mislukking berus in wese op die fundamentele onmoontlikheid om te onderskei tussen wat noodsaaklik is en wat nie – want byna alles is in die een of ander stadium vir iemand noodsaaklik. Enigiets van gloeilampe, tot babaklere, tot warm jasse, bereide voedsel of elektronika kan in jou bepaalde omstandighede noodsaaklik wees.

“Die privaat sektor het baie om by te dra in hierdie krisistyd. Daar is talle behoeftes wat gebalanseer en bevredig moet word.

“Geen regulasie kan ooit lank en wydstrekkend genoeg wees om al die veranderlikes te dek nie – en selfs al kon dit, sou dit heeltemal te kompleks wees om toe te pas,” sluit le Roux af.

Lees die volledige beleidskrif – en kyk wie dit tot dusver ondersteun – hier.

The post Sakeliga steun vooraanstaande ekonome se plan om die ekonomie oop te stel – veilig  appeared first on Sakeliga.


Ander nuus