DTI reik nuwe regulasies uit om regsoptrede te voorkom maar skep risiko vir noodsaaklike werkers, oumense en kwesbare mense 

20 Apr 2020

Nuwe inperkingsregulasies, wat die verspreiding en verkoop van warm en gaar voedsel verbied, skep ’n groter risiko vir die kwesbaarste lede van ons bevolking en is waarskynlik deurgedruk om regsaksie te vermy, volgens die sakeorganisasie Sakeliga.

Dit volg nadat Sakeliga verlede week daarop aangedring het dat die Minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, ’n onderneming gee om sy uitsprake waarin hy die produksie en verkoop van “bereide”, “warm” en “gaar” voedsel verbied, te staak en terug te trek. Die Minister het sulke uitsprake gemaak in afwesigheid van enige gepromulgeerde regulasies te dien effekte.

Regsadviseurs van die Minister het Sakeliga se prokureurs Sondag meegedeel dat hulle ’n regsmening oor die aangeleentheid inwin en dat hulle teen Woensdag 22 April 2020 sal reageer. Nog voordat onderhandelinge kon begin, is die jongste wysiging van die inperkingsregulasies egter uitgereik – en dit verbied nou uitdruklik die verkoop en produksie van “gaar warm kos”, wat voorheen op die lys van noodsaaklike goedere en dienste ingevolge die regulasies was.

“Hierdie wysiging is klaarblyklik oor die naweek opgestel as deel van ’n strategie om ’n regstwis oor die kwessie te vermy. Ons is teleurgesteld dat die regering hierdie koers ingeslaan het. Dit was ’n uitstekende geleentheid om met die sakesektor te skakel om nuwe, kreatiewe oplossings vir ons huidige probleme te kry,” sê Daniel du Plessis, regsontleder vir Sakeliga.

“Minister Patel se regsverteenwoordigers het ons prokureurs op 19 April 2020 in kennis gestel dat hulle op ’n regsmening wag voordat hulle op ons eis reageer. Dit is nou egter duidelik dat, intussen, ’n wysiging reeds in die proses van ondertekening deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake was toe die brief aan ons prokureurs gestuur is.”

Sakeliga het verklaar dat hy die aangeleentheid na sy regspan gaan verwys. Hoewel die regulasies gewysig is om die verkoop van warm, gaar voedsel uitdruklik te verbied, is Sakeliga van mening dat die regulasies inherent irrasioneel kan wees.

“Duisende mense, veral verskaffers van noodsaaklike dienste soos supermarkpersoneel, instandhoudingswerkers en mediese werkers, maak op ’n daaglikse basis staat op warm bereide voedsel. Die regering het nog nie verduidelik waarom hulle reken dat die verkoop van warm voedsel ’n hoë risiko vir die verspreiding van die Covid-19-virus inhou nie.”

“Wat die regering egter ook nie in aanmerking geneem het nie, is die drastiese uitwerking wat hierdie verbod gaan hê op kinders, die armes en bejaardes wat op verskeie maatskaplike dienste aangewese is om hulle op ‘n daaglikse basis van voedsel te voorsien. Baie van hierdie mense het nie die nodige toerusting om hulle eie voedsel te berei en warm te maak nie,” sê Du Plessis.

“Dit het ongelukkig ’n tendens geword dat baie van hierdie regulasies op arbitrêre wyse toegepas word. Byvoorbeeld, die CIPC is blykbaar besig om noodsaaklikedienssertifikate vir restourante wat na bakkerye en deli’s oorgegaan het, terug te trek. Sulke aktiwiteite word egter uitdruklik ingevolge die regulasies toegelaat – en dit is ‘n uitstekende manier vir hierdie ondernemings om hulle kliënte en werkers steeds te ondersteun. Pleks van met sakeondernemings in gesprek te tree en kreatiewe maniere aan te moedig vir restourante om mededingend te bly en steeds sake te doen tydens die inperking, dreig die regering met strafregtelike vervolging,” sê Du Plessis.

Hy sê die gevolge van slordige regulasies kan erg wees.

“As iets nie onmiddellik gedoen word nie, kan selfs heeltemal wettige, noodsaaklike ondernemings onseker wees van hulle status. Ons wil graag ’n meer genuanseerde, konsekwente en deurdagte benadering van die regering sien. Dit is belangrik om daarop te let dat Suid-Afrika se beperkings op hierdie ondernemings baie verder gaan as wat deur die oorgrote meerderheid van internasionale kundigheid voorgestaan word – insluitende aanbevelings deur liggame soos die Wêreldgesondheidsorganisasie.”

Sakeliga voer samesprekings met verteenwoordigers van die restourantbedryf asook diegene in die niewinssektor vir maatskaplike dienste oor ’n moontlike aanvegting van die gewysigde regulasies.

Sakeliga beoog om die Minister se uitnodiging na ’n vergadering te aanvaar en hoop dit sal ’n geleentheid wees om nuwe en innoverende oplossings te bespreek wat ’n gepaste ewewig tussen veiligheid en volhoubaarheid sal skep.

The post DTI reik nuwe regulasies uit om regsoptrede te voorkom maar skep risiko vir noodsaaklike werkers, oumense en kwesbare mense  appeared first on Sakeliga.


Ander nuus