Sakeliga: verlengde inperking moet sake- en gemeenskapsvolhoubaarheid toelaat 

09 Apr 2020

Die uitgebreide inperkingstyd kan nie inperking soos normaal” wees nie. Dit is van kritieke belang dat die lesse van die afgelope twee weke aangewend word om so veel as moontlik ekonomiese aktiwiteit toe te laat. 

“Ondernemings wat verantwoordelike wyses vind om oop te bly en van die krisis te herstel behoort as helde beskou te word,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Die langtermyn welstand van alle gemeenskappe rus op die skouers van sakelui.” 

Le Roux noem twee wyses waarop die verlengde inperking van die huidige behoort te verskil: 

“Eerstens behoort die regering die onderskeid tussen ‘noodsaaklike’ en ‘nie-noodsaaklike’ besigheid te hersien, en selfs te skrap. Nie alleen is besighede in ‘n modern ekonomie almal geïntegreer nie, maar elke besigheid is noodsaaklik in die sin dat dit kos op die tafel sit van personeel, verskaffers en klante in sy waardeketting.” 

Wat groot vrugte sal afwerp is indien die Departement van Handel en Nywerheid die skadelike pogings om lisensieprosedures vir ‘noodsaaklike’ besighede afskafVeral informele, klein en mediumgrootte ondernemings word benadeel en belemmer. Dan noem ons nie eens die kwessie van BEE-kriteria by hulppakkette in ‘n tyd van krisis nie – dit is moreel onregverdigbaar en behoort onmiddellik eenkant geskuif te word. 

“Tweedens behoort minder kwesbare – en meer ekonomies aktiewe – mense meer beweegruimte gebied te word, sodat groter klem op die beskerming van meer kwesbare mense geplaas kan word. Hierdie sal nie net die langtermyn welstand van die gemeenskap in geheel bevorder nie, maar ook ekstra ruimte vir akute gesondheidsbestuur laat.” 

Die ekonomiese koste teenoor hulppakette 

Volgens Sakeliga se beramings verloor die sakesektor, konserwatief geskat, sowat R4.2 miljard in omset vir elke dag wat die grendelstaat voortduur. As die regulasies nie op drastiese maniere aangepas word nie – en indien besighede nie aanpas nie – staar ons oor die vyf weke sowat R147 miljard se omset-verliese in die gesig. Hoewel donasies en ander hulpverlening te verwelkom is, is dit duidelik dat, in vergelyking, die Werkloosheidsversekeringsfonds se R40 miljard en die Nasionale Solidariteitsfonds se R2 miljard net ‘n druppel in die emmer is. 

Die belangrikste ding is om nou maniere te vind waarop besighede so oop as moontlik kan bly – binne die perke van die regulasies – om ‘n ekonomiese katastrofe na afloop van die gesondheidsituasie af te weer. 

Sakeliga se regshulp-pakket vir besighede 

Sakeliga herinner besighede aan sy regshulp-pakket vir informele, klein en mediumgrootte ondernemings om voort te gaan met sake. Hierdie hulppakket behels ‘n 50% subsidie van Sakeliga vir ‘n pasgemaakte regsmening oor noodsaaklike besigheidsaktiwiteite en voorsien besighede met ‘n sertifikaat wat al die tersaaklike inligting bevat om, onderhewig aan die regulasies, steeds oop te bly. 

The post Sakeliga: verlengde inperking moet sake- en gemeenskapsvolhoubaarheid toelaat  appeared first on Sakeliga.


Ander nuus