Sakeliga kondig platform aan vir noodsaaklike dienste 

07 Apr 2020

Na die afkondiging van die grendelstaat het groot dele van die Suid-Afrikaanse ekonomie tot stilstand gekom, hoewel sogenaamde noodsaaklike besighede steeds toegelaat word om sake te doen.

Volgens Sakeliga is daar egter nog grootskaalse verwarring onder gebruikers oor watter produkte en dienste deur die regulasies toegelaat word.

“Dit is met hierdie probleem in gedagte dat Sakeliga vandag Noodsaaklik.co.za van stapel stuur – ‘n diens wat daarop gemik is om te verseker dat noodsaaklike behoeftes wel so vinnig, maklik en, natuurlik, veilig as moontlik bevredig kan word.”

“Die verwarring is die gevolg daarvan dat die regulasies breed, vaag en teenstrydig opgestel is – en dan is daar ook natuurlik die feit dat staatsregulasies vir die gewone burger taamlik ontoeganklik is,” sê Daniel du Plessis, bestuurder van Sakeliga se Sakeplein-platform.

Sakeliga voorsien egter ook dat, afgesien van hierdie inligtingsrol, die diens ook waarde kan bied deur verbruikers veiliger te maak.

“Dit is te verstane dat mense so min as moontlik tyd buite hul huise wil spandeer – en so vinnig as moontlik wil uitkom by daardie goedere en dienste waarsonder hulle regtig nie kan nie. Ons hoop dat Noodsaaklik.co.za, dus, ook op hierdie manier mense kan bemagtig om hul risiko te minimeer,“ vervolg Du Plessis.

Een so ’n noodsaaklike diens is noodsaaklike instandhouding van riolering en watertoevoer – iets wat beslis van belang is waar soveel mense vir so lank by die huis vasgekluister sit. Dit is dus nie verbasend daar reeds 7 loodgieters in die algemene Pretoria-area gelys het, nog selfs voordat die platform amptelik geloods was nie.

“Dit is belangrik dat verbruikers besef dat daar steeds heelwat produkte en dienste is wat in hierdie tyd gelewer mag word – juis omdat hulle krities is. Mens loop natuurlik die risiko dat ‘n versuim om, byvoorbeeld, probleme met jou krag en water reg te stel jy juis omstandighede skep wat jou gesondheid juis in hierdie kritiese tyd aftakel.”

Ander besighede wat hul self reeds op die platform gelys het sluit in private sekuriteitsdienste, masker- en handreinigervervaardigers, radiostasies en verskaffers van noodsaaklike insette vir die landbou-bedryf.

Sakeliga het ‘n algemene uitnodiging uitgereik na enige noodsaaklike besighede om hulself op die platform te lys by hierdie skakel.

Dit is wel belangrik dat dienste hulself slegs op die platform lys indien hul binne die bestek van “noodsaaklike” besighede val. Sakeliga vereis daarom, volgens Du Plessis, van enige besighede wat by voorneme is om te registreer om eers te bevestig wat hul status is.

“Hoewel dit selfs vir ‘n besigheid moeilik mag wees om agter die kap van die byl te kom, het Sakeliga ‘n reeks regsmenings aangevra om die posisie te verhelder. Lede van Sakeliga word ook aangemoedig om direk met die organisasie kontak te maak om te bepaal of hulle wel binne die kategorie van noodsaaklike dienste val.”

Sakeliga sal eersdaags ‘n engelse eweknie vir Noodsaaklik.co.za  bekend stel.

The post Sakeliga kondig platform aan vir noodsaaklike dienste  appeared first on Sakeliga.


Ander nuus