Sakeliga verwelkom regstellings deur ministers en korrekte regulasietoepassing in Mosselbaai

04 Apr 2020

Sakeliga ondersteun Dear South Africa met openbare deelname-proses

4 April 2020

“Verskeie teenstrydighede en onnodige regulasies staan steeds in die pad van noodsaaklike dienslewering, maar regstellings die afgelope week is ‘n goeie teken.”

So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga nadat regstellings aan skadelike regulasies die afgelope week aangekondig is, ooreenkomstig veelvuldige dringende skrywes, regsmenings en skakeling deur Sakeliga.

Regstellings sluit in ministeriële regulasie-veranderinge, sowel as reggestelde toepassing deur plaaslike munisipaliteite soos Mosselbaai.

Wysigings aan die regulasies
Sakeliga was die afgelope tyd in dringende korrespondensie met ministers, wetstoepassers, munisipaliteite en sakelui landswyd om inligting te verskaf en waar nodig sterk druk toe te pas.

Die eerste belangrike regstelling vandeesweek is dat ministers nou nie meer elkeen hul eie regulasies mag uitreik sonder om met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat die hoofregulasies uitgereik het, te konsulteer nie.

Le Roux sê dié bepaling kan help om onnodige, belemmerende en ultra vires handelinge deur ander ministers te voorkom: “Foute soos die skadelike en onuitvoerbare vereistes deur die minister van handel, nywerheid en mededinging dat ondernemings CIPC-sertifisering vir noodsaaklike goedere en dienste sou moes bekom, moes nooit eers plaasgevind het nie. Die beste is steeds om dit nou dringend te herroep.”

Die tweede belangrike regstelling is die uitbreiding van die lyste van noodsaaklike goedere en dienste. Dié lys sluit nou in brandstofvoorsiening soos gas en hout, kruidenenierswinkels, grootmaatproduktemarkte, begrafnisdienste en vullisverwydering.

Ook informele handelaars – wat ‘n noodsaaklike rol speel om ekonomiese krisis te voorkom, kosverspreiding te vergemaklik en te keer dat mense in groot konsentrasies by kettingwinkels byeenkom – kan nou makliker sake doen. “Die nadeel is wél dat informele handelaars nou wel belemmer word met die vereiste om ekstra munisipale lisensies te bekom – iets waarteen ons verdere druk op die minister sal plaas,” sê Le Roux.

Ander welkome verslappings sluit in vir sekere reise, soos na begrafnisse oor provinsiale grense heen.

Le Roux verwag dat die lyste van noodsaaklike goedere en dienste onvermydelik in die komende dae verder uitgebrei word, soos dit algaande blyk hoe geïntegreerd die ekonomie inderwaarheid is.

Inligting aan munisipaliteite, verbetering in Mosselbaai
“Dit is goeie nuus dat daar reeds munisipaliteite is wat saamwerk om noodsaaklike dienslewering te vergemaklik. Die Mosselbaai plaaslike munisipaliteit het ná aanvanklike verkeerde toepassing die saak reggestel en vereis nou klaarblyklik nie meer van ondernemings in die dorp ‘n CIPC-sertifikaat alvorens hulle noodsaaklike produkte en dienste mag lewer nie,” sê Le Roux.

Sakeliga het die afgelope week regsmenings van advokate en senior advokate onder lede, wetstoepassers en die publiek begin versprei, waarin ons aangetoon het dat CIPC-sertifikate nie ‘n vereiste vir noodsaaklike werk is nie.

Le Roux sê Sakeliga volg tans individueel met stasiebevelvoerders en plaaslike owerhede op wanneer ons lede verhoed word om noodsaaklike goedere en dienste te verrig: “Ons sal in die komende week aan alle munisipaliteite in die land skryf om misverstande oor wetstoepassing reg te stel en plaaslike ekonomieë by te staan om die krisis te oorkom.”

Openbare deelname vir insette van gemeenskappe en besighede
“Sakeliga is bly om ons lede en die publiek van diens te wees met die regulasieverbeteringe tot dusver. Dit is nie ons werk alleenlik nie – verskeie ander organisasies verrig ook goeie werk hiermee. Meer bly nodig en Sakeliga kondig graag aan dat ons nou ook sal saamwerk met die openbaredeelname-organisasie, Dear South Africa.”

Op 2 April het Dear South Africa sy openbaredeelname-blad by www.dearsouthafrica.co.za/lockdown-regulations/ geskep. Hier kan sakelui en die publiek voorstelle vir verbetering van die regulasies doen. Teen 11:00 op 4 April het meer as 11 500 mense reeds die geleentheid gebruik om verbeteringe en regstellings aan die staat se regulasies voor te stel.

“Sakeliga sal met Dear South Africa saamwerk om goeie voorstelle te identifiseer en verder te voer. Ons wens Dear South Africa geluk met hierdie inisiatief en moedig ons lede aan om daaraan deel te neem,” sê Le Roux.

“Ons sit ook ons deelnameprosesse vir verdere regulasieverbatering en inligtingvoorsiening aan lede onverpoosd voort,” sluit Le Roux af.

The post Sakeliga verwelkom regstellings deur ministers en korrekte regulasietoepassing in Mosselbaai appeared first on Sakeliga.


Ander nuus