Beleidsradarmeningstuk: Covid-19-inperking – hoeveel mense daardeur geraak kan word

03 Apr 2020

In ons vorige beleidsradarmeningstuk het ons gekyk na die ekonomie en die gevolge van produksie-afsluitings en die afbakening van essensiële produkte en -dienste deur beleidmakers. Dit word gedoen in reaksie op die mediese gevare wat die Covid-19-pandemie inhou. Hierdie gevare is natuurlik wesenlik, maar die huidige dwangmaatreëls, op hul beurt, kan ook uiters nadelige sosio-ekonomiese gevolge hê.

Sommige akademici, soos professors Alex Broadbent en Benjamin Smart, dui reeds in ’n aangrypende meningstuk op belangrike beleidsopwegings wat in ag geneem moet word. ’n Gebalanseerde oorweging van die gevare wat maatreëls om Covid-19 te bekamp inhou, beteken nie ’n ontkenning van die gevare rondom die mediese krisis nie. Trouens, om die gevaar van Covid-19 volledig te verstaan omvat juis ’n begrip van die ekonomiese- en ander rimpeleffekte van die virus.

Uiteindelik, kan ons verwag, sal die geneigdheid om oor die virus te bekommer vir miljoene mense in SA deur kommer oor basiese lewensbehoeftes, soos kos, oorskadu kan word. Dit kan selfs die pogings om mense te laat afstand hou in die wiele ry.

Nadat die golf van die mediese krisis oorgespoel het, gaan ’n ekonomiese krisisgolf oor ons  samelewing spoel. Uiteindelik kan ons net koop met wat ons produseer. As produksie vir lank in die wiele gery word, gaan dit ernstige sosio-ekonomiese probleme veroorsaak, en dít ten tye van enorme nasionale begrotingstekorte. Sonder ’n aansienlike, maar polities moeilike, aanpassing aan huidige besteding gaan die regering se vermoë om hulp te bied waarskynlik aansienlik beperk wees. Daarom, meen ons, moet soveel van die ekonomie (eintlik mense) as moontlik toegelaat word om waarde vir ander te skep en inkomste te verdien.

Wat is die omvang? Hoeveel mense kan ekonomies geraak word?  

’n Eenvoudige en imperfekte som gee vir ons ’n idee van die moontlike omvang vir die publiek. SA is ‘n bevolking van sowat 58 miljoen mense. ’n Proporsie van die formele sektor sal natuurlik geraak word. Indien dit net ’n kwart is, kom dit neer op byna 2,8 miljoen mense, want sowat 11 miljoen mense werk in die formele sektor. Drie miljoen mense werk in die informele sektor buite landbou, wat  proporsioneel, waarskynlik, hewiger as die formele sektor geraak sal word. Ingesluit is die sakemanne en -vroue in ’n geskatte sowat 1,8 miljoen informele ondernemings. Verder werk sowat sowat 1,3 miljoen mense in private huishoudings en die impak op hierdie groep is onseker.

Dan kan ons ook nie die 10 miljoen werkloses wat wil werk vergeet nie en ook nie diegene wat staatmaak op ongereelde stukwerk en daglone nie. Die staat van inperking gaan vir seker hierdie groepe se lewe uiters bemoeilik.

Dit neem mense egter nie lank om honger te raak nie en baie gemeenskappe in SA voer reeds  ’n hand-tot-mond bestaan. Heelwat mense is vatbaar vir honger en voedseltekorte. Vir miljoene mense was dinge reeds erg en dit gaan nou nog erger.

Statistieke Suid-Afrika wys dat sowat 11,3% van persone in SA in 2018 kwesbaar was vir honger. Dit kom neer op meer as 6 miljoen mense. Verder het 20,2% van huishoudings in peilings beperkte toegang tot kos aangedui. Dit kom neer op meer as 3 miljoen huishoudings. Dit was die realiteite nog voordat die die grendelwetgewing ingestel is.

Miljoene mense, waarskynlik meer as wat deur beleidmakers aangeneem word, kan maklik tydens die tyd van inperking deur die krake val. Die risiko bestaan dat die staat van inperking kan uitloop op groot ellendes – soos President Ramaphosa tog ook genoem het kan gebeur. Dit is wel belangrik om die grootte van die omvang daarvan te begryp.

Formele hulp aan die ‘informele’?

Buiten die enorme moontlike aantal bykomende eise op die regering en ’n groot kans vir  stelselbottelnekke, is die hulpmaatreëls wat sover aangekondig is grootliks gefokus op partye, ondernemings en groepe wat of een of ander manier gekoppel is aan die regering se formele stelsel en die formele ekonomie.

Daar was sprake van ’n veiligheidsnet vir die informele sektor, maar sover sien ons dit nie. Onlangse wetswysigings maak byvoorbeeld nou toelating vir informele handelaars om weer kos te mag verkoop, mits hulle goedkeuring van hul plaaslike munisipaliteit het. Maar neem sulke vereistes vir goedkeuring werklik die realiteite van die informele sektor in ag? En, uiteindelik, hoe gaan mense soos die haarkapper in die sinkplaathuis gehelp word?

’n Staat is ’n skepsel van regulasies, permitte, goedkeurings, en allerlei markinmenging en ‑regulering, maar die informele sektor beweeg tot ’n groot mate buite daardie raamwerk. Dit is eenvoudig net nie soveel op die boeke nie. Dié sektor is nie iets wat regerings klaarblyklik goed verstaan (of dalk wil verstaan) nie, maar dit beteken nie hierdie bedrywighede nie belangrike ekonomiese behoeftes vervul nie.

Die feit van die saak is, Suid-Afrika is nie ’n ryk ontwikkelde land nie. Dit is baie moontlik dat ander lande se maatreëls nie sal kan werk in Suid-Afrika se unieke plaaslike omstandighede nie. Dit is ooglopend dat die SA-ekonomie nie dieselfde veerkragtigheid as ander ryker lande sal hê nie.

Probleme groter as staatshulp

Die probleem is egter nie net ’n vraag oor voldoende hulppakkette aan verskillende blootgestelde mense nie. Die probleem is ook oor die beskikbaarheid van goedere wat daardie hulpgeld moet kan aankoop. Indien die maatreëls hier en globaal aanhou om voorsiening van goedere en produksie (en invoere!) hewig te belemmer, sal die komplekse kettings van bedrywighede minder doeltreffend raak. Dan sal dinge, insluitende die aangewese ‘noodsaaklikhede’ skaarser word – selfs met hulpgeld in die hand. In daardie geval gaan geen staatshulp of kortings al die dringendste behoeftes kan vervul nie en gaan reusagtige probleme die gevolg wees.

The post Beleidsradarmeningstuk: Covid-19-inperking – hoeveel mense daardeur geraak kan word appeared first on Sakeliga.


Ander nuus