Mees akute uitdaging ooit vir besigheid in SA – Verligtingsmaatreëls moet politiek-vry wees

23 Mar 2020

“Die volgende drie weke is die mees akute uitdaging ooit vir sakelui in Suid-Afrika. Die gesondheid en welvaart van miljoene hang nou af van sakelui se vermoë om buitengewone besigheid te doen. Van kritieke belang is dat die regering se verligtingsmaatreëls eweredig en nie op ‘n politiek-verdelende wyse beskikbaar gemaak word nie.” So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, na die aankondiging deur president Cyril Ramaphosa van omvattende beperkings op vryheid van beweging en handel, soortgelyk aan dié in baie ander state die wêreld oor.

Sakeliga se bedryfsaktiwiteite is reeds gedesentraliseer en die organisasie sal in die beperkingsperiode onverpoosd aanhou werk. “Ons moniteer die regulatoriese verwikkelinge. Mees belangrik, ons help besighede, sakekamers, en klante en kliënte om digitaal te verbind, insigte te bekom, inskattings te doen, operasioneel te bly, en die tafel te dek vir die noodsaaklike herstel na die Covid-19 periode,” sê Le Roux.

Dit is nodig om daarop te let dat die beperkinge op vryheid van beweging en handel ingevolge die Rampbestuurswet afgekondig is. ‘n Nasionale noodtoestand is nie verklaar nie. “Dit is inderdaad die meer verantwoordelike stap deur die regering, omdat die publiek hul steeds kan beroep op al hul konstitusionele regte. Sakeliga sal in die komende tyd verdere kommentaar hierop lewer – in besonder ten opsigte van die betekenis daarvan vir ondernemings,” sê Le Roux.

Nietemin, die ekonomiese impak van hierdie beperkings gaan ingrypend en, in baie gevalle, noodlottig wees – wat op sigself weer gevolge inhou vir gesondheid en sosiale stabiliteit. “Ons beveel daarom aan dat die regering sodanige beperkinge met groot omsigtigheid aanpak – en hulle so gou doenlik opsê”, vervolg Le Roux.

Le Roux meen dat die maatreëls wat deur die regering afgekondig is om die impak van regeringsingrype te probeer besweer van gemengde welslae sal wees – veral dié wat gemik is op klein- tot middelslag ondernemings. “Verdere maatreëls behoort aangekondig te word, waarvan die mees suksesvolle dié sal wees wat probleme aanspreek wat Covid-19 voorafgegaan het: moeilike sake-omstandighede, ideologiese ingrepe en swaar belastings. ‘n Veel vryer ekonomie sal van onskatbare waarde wees in die herstel van maatskaplike stabiliteit, indiensname, voedselsekerheid en die voorsiening van lewensmiddele vir die Suid-Afrikaanse publiek in geheel.”

Sakeliga bied elke weeksdag, tussen 13:00 en 14:00, ‘n gratis webinar op sy Facebook-bladsy, waartydens onderhoude gevoer word met regslui, analiste, en gemeenskaps- en sakeleiers wat manière gevind het om met die Covid-19 situasie om te gaan.

The post Mees akute uitdaging ooit vir besigheid in SA – Verligtingsmaatreëls moet politiek-vry wees appeared first on Sakeliga.


Ander nuus