Sakeliga pak Julius Malema en EFF in Konstitusionele Hof – aanhitsing om ’n misdaad te pleeg, mag nooit as spraakvryheid beskerm word nie

18 Feb 2020

Aanhitsing tot betreding en onwettige grondbesetting op groot skaal moet ingevolge die Grondwet as spraakvryheid beskerm word – dit is in wese wat mnr Julius Malema en die EFF vandag aan die Konstitusionele Hof voorgehou het. Die saak is deel van ’n poging deur mnr Malema om vervolging vry te spring op verskeie aanklagte dat hy sy volgelinge en/of die publiek tot betreding en onwettige besetting van grond aangehits het.

Die sakeorganisasie Sakeliga het as amicus curiae aangevoer dat aanhitsing om ’n misdaad te pleeg, nooit as spraakvryheid, soos mnr Malema en die EFF dit wil hê, beskerm kan word nie. Sakeliga het aangevoer dat die bestaande regsraamwerk, wat beskerming teen aanhitsing, betreding en onwettige besetting verleen, nie ongrondwetlik is nie en nie verwater moet word om mnr Malema en die EFF te pas nie.

Met sy bydraes het Sakeliga gepoog om die argumente van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) en die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste te steun ter versterking van die NDOV se vermoë om mnr Malema te vervolg.

“Dit is ondenkbaar dat mnr Malema of enigiemand anders die beskerming van die Hof of die Grondwet moet geniet terwyl hulle mense aanhits om misdade soos betreding en onwettige besetting te pleeg. As applikante is hulle eintlik besig om te probeer om legitimiteit te verleen aan wat in wese misdadige optrede bly en om die regsraamwerk vir eiendomsregte in die land te verswak ten einde wydverspreide onwettige besetting van grond te fasiliteer. Volgens wat mnr Malema voorstel, sal dit onbetaalbaar duur word om jou eiendom te beskerm teen die oortredings van diegene wat misdaad aanhits en diegene wat grond onwettig beset,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Uitspraak is voorbehou.

“Ons sien dat grondgrype die afgelope tyd meer georganiseerd en stelselmatig van aard word. Ons moedig grondeienaars aan om proaktiewe stappe te doen om besetting van hulle eiendom te ontmoedig,” benadruk Le Roux.

Sedert die bekendstelling van Sakeliga se Landgrab911-platform in Desember 2018 het 68 sakeondernemings en individue daarvan gebruik gemaak om grondgrype proaktief te bekamp. “Tot dusver was hulle almal suksesvol. In nie een geval was dit nodig om ’n hof te nader vir ’n interdik nie, en gebruikers kon pleks daarvan staat maak op die inligting, dokumentasie en planne wat op die platform verskaf word, om leiding te kry om teen grondgrype te waak,” sê Le Roux.

The post Sakeliga pak Julius Malema en EFF in Konstitusionele Hof – aanhitsing om ’n misdaad te pleeg, mag nooit as spraakvryheid beskerm word nie appeared first on Sakeliga.


Ander nuus