Beleidsradar: ANC Lekgotla se waarskynlike impak op Suid-Afrika se ekonomiese beleid

05 Feb 2020

Die ANC se eerste Lekgotla vir 2020 is op 20 Januarie 2020 afgesluit met President Cyril Ramaphosa wat onverwags die media toegespreek het in sy kapasiteit as hoof van die ANC. Gegewe dat Ace Magashule in die onlangse verlede hierdie geleenthede afgesluit het, en as ’n mens in ag neem dat ’n  politieke struweling tussen Ramaphosa en Magashule agter die skerms afspeel, maak politieke analiste veel van die feit dat Ramaphosa homself op so ’n wyse laat geld het in daardie forum.

Ons sal egter die innerlike funksionering en kompleksiteite van ANC partypolitiek vermy in hierdie artikel. Ons fokus is eerder op President Ramaphosa se uitsprake, wat die Lekgotla se besluite oor ekonomiese beleid weerspieël.

As ’n pro-markte organisasie het ons die uitsprake ontleed vanuit die perspektief van hul waarskynlike impak op markvryheid, vrye ondernemerskap, en entrepreneurs- teenoor staatsbestuur van ekonomiese hulpbronne. Ons sluit ook in ’n subjektiewe evaluasie van die waarskynlikheid dat die Lekgotla se besluite uiteindelik deel sal word van amptelike regeringsbeleid. Ons het ’n analitiese raamwerk saamgestel wat aan die einde van die artikel voorgestel word. Ons sal hier onder op ons analise uitbrei.

Deur hierdie metode toe te pas, kan ons die kritiesste beleidsidees identifiseer wat ons sien as ’n bedreiging tot die funksionering van vrye markte, vrye ondernemerskap en die doeltreffendheid van toedeling van SA se ekonomie.

Dit moet genoem word dat dié wat skepties is oor markte, laissez-faire, en vrye ondernemerskap basies min het om oor besorg te wees, buiten die ANC se bestuurstyl en beleidsimplementering. Die sogenaamde ‘hervormings’ wat die Lekgotla voorgestel het bly beslis binne die kamp van ’n uiters burokratiese en intervensionistiese benadering tot regulering van die ekonomie.

Die Goeies

Sommige goeie idees, heelwat van hulle ietwat holrug gery en steeds nie uitgevoer nie, kan genoem word. Dit sluit in die verslapping van visumvereistes, planne om kriminaliteit en afpersing by bouterreine stop te sit, voorstelle om (klaarblyklik as daar genoeg gegewens is) staatsondernemings af te skaal en meer effektief te maak, en die implementasie van die vryhandelsooreenkoms vir Afrika.

Die vrystelling van die breëbandspektrum is nog ’n goeie idee, maar, gegewe die Lekgotla se eie voorbehoude oor pryse en onlangse ICASA-ontwikkelings rondom die voorgestelde aard van die spektrumvrystelling, sal dit waarskynlik voortgaan met aansienlike teen-die-mark burokratiese voorwaardes daaraan verbonde.

Die voorstel van ‘minimum kwalifikasies vir openbare verteenwoordigers’ is in beginsel goed. So ook die idee om die prestasie, dissipline en bestuursuitkomste van openbare verteenwoordigers te monitor. In hierdie geval sal sien egter glo moet wees.

Ten spyte van die maatreëls hier bo genoem kan ’n mens aflei dat die ANC se swaar hand van intervensionisme grootliks onaangetas sal bly. Die kern van ANC-beleid is om ferm greep te behou op markte, besighede en privaat eiendom deur amptelike beleidsmaatreëls.

Die werklikheid is dat Suid-Afrika meer as marginale ekonomiese hervormings nodig het om die sinkende skip te red. Die hervormings wat nodig is sou fundamenteel moes afwyk van die trajek van intervensionistiese staatsgeleide beleid wat indruis teen die mark. Dit sou vereis dat die regering aansienlik sou moes onttrek van betrokkenheid by die privaatsektor. Só ’n onttrekking sou weerspieël word in grootskaalse deregulasie, privatisering en ’n vermindering van heelwat van die regering se funksies. Dít is duidelik nie die rigting wat in die Lekgotla se verklaring aangedui is nie.

Beleide wat teen mark- en ondernemersvryheid indruis

Dit gesê oorweeg ons nou die Lekgotla se beleidsvoorstelle wat ons as hoogs teen-die-mark sien, met ’n meer as gelyke kans om uiteindelik in amptelike ekonomiese beleide geïmplementeer te word.

Ons noem hulle hoogs teen-die-mark as gevolg van die waarskynlike ernstige impak wat hulle kan hê op die sekuriteit van privaat eiendom en die doeltreffendheid van toedeling van ekonomiese hulpbronne.

  • Die gesag om die totale vergoeding met onteiening te bepaal berus by die uitvoerende gesag (tans dalk minder waarskynlik gegewe bestaande wette, maar afhanklik van die ANC se veldtog om dit te implementeer).
  • Die verdere versterking van BEE-beleide ter ondersteuning van transformasie op grond van ras.
  • Die verdere afdwinging van BEE in privaat verkryging.
  • Die toepassing van BEE in handelsooreenkomste om voordele vir geselekteerde swart begunstigdes te verseker – dit is per definisie nie ‘vrye handel’ nie, maar staatbestuurde handel.

Naar, maar minder waarskynlik

  • Die Lekgotla het ook ’n skuif voorgestel om regerings- en staatsondernemingsverkryging vir ANC-beleidsdoeleindes te versterk (waarskynlik uit te brei). So ’n ingryping sou waarskynlik relatief minder hulpbronne onder die beheer van privaatsektorentrepreneurs binne die konteks van markdissipline en markinsentiewe beteken. Gegewe die aard van die die regering se begrensde fiskale toestand, dink ons egter dit is onwaarskynlik dat regerings- en staatsondernemingsverkryging hewig uitgebrei sou kon word van hul huidige vlakke af, hoewel die huidige vlakke – na ons mening – reeds problematies is. Die meer waarskynlike beleidshefboom vir die ANC is om druk te plaas op privaatsektorbegrotings vir verkryging, soos wat ons hier bo uiteengesit het. Lees ’n langer bespreking van die ekonomiese impak van BEE in ’n vorige artikel en podsending.

Beleide van eenderse vere

Ons sien die volgende ingrypings as mark-onvriendelik, maar tot ’n mate marginaal minder skadelik. Hulle kan moontlik verduidelik word as ANC-beleide van eenderse vere. Hierdie beleide gaan waarskynlik geïmplementeer word.

  • Regerings- (m.a.w. belastingsbetaler-)ondersteuning (subsidies, verkryging, steun en insentiewe) vir geselekteerde industrieë, soos vervaardiging en ander sektore.
  • ’n Verdere klem op (minder doeltreffende) “lokalisering”[1] in regeringsverkryging.
  • Die staat, en nie entrepreneurs nie, wat ’nuwe groeiffaktore’ kies.
  • Sterker maatreëls teen belastingontwyking. Ons dink ernstige verlagings in staatsbesteding en laer belasting is eintlik nodig.
  • Maatreëls om streng op te tree teen ‘onwettige kapitaalbewegings’ – dit sou opgegradeer word in ons model as dit neerkom op kapitaalbeheermaatreëls.
  • Verdere grondhervormingsmaatreëls – waar die presiese aard van begunstigdes uitdruklik uiteengesit word in burokratiese (buitemark-) besluite.
  • Verdere befondsing van swart boere en swart nyweraars (wat die toedeling van belastinggelde beïnvloed).
  • Petroleumsektorwetgewing – veral met die huidige ‘drabelang’-stipulase in die onlangse petroleumwet.

Uiteindelik, te oordeel aan die Lekgotla se uitsprake, sien ons beslis nie ’n fundamentele afwyking van die huidige trajek en aard van ANC-beleid nie. Sommige van die beleidsidees rondom onteiening en BEE-uitbreiding kan sonder twyfel die huidige slegte beleidsekwilibrium vererger. Ander handhaaf bloot ’n slegte buitemarkekwilibrium. Die goeie idees vervat in die verklaring – selfs as hulle die lewenslig sien – sal waarskynlik nie die teen-die-mark trajek van ANC-beleid drasties wysig waar dit regtig saak maak nie.

[1] “Lokalisering”-beleide kan nie as markvriendelik beskou word nie, veral wanneer hulle handels- en kommersiële vryhede beperk. Indien sulke regeringsbeleide byvoorbeeld maatskappye daarvan weerhou om goedkoper invoere te gebruik, kan dit lei tot stygende koste, ekonomiese ondoeltreffendheid en minder waarde aan verbruikers.

Sien ook die volgende skakel.

The post Beleidsradar: ANC Lekgotla se waarskynlike impak op Suid-Afrika se ekonomiese beleid appeared first on Sakeliga.


Ander nuus