Sakeliga versoek dringende vergadering met Eskom-bestuur

Des 20, 2019

Sakeliga het ‘n dringende vergadering met Eskom se bestuur versoek. Dit volg op onlangse stappe wat Eskom geneem het om wanbetalende munisipaliteit se kragtoevoer te staak.

Volgens Sakeliga se regsanalis, Daniel du Plessis, sal Eskom se strategie waarskynlik faal indien die howe genader word. “Hierdie stappe het op geweldige kort kennisgewing geskied – en dan nog boonop ook oor Kerstyd. Dit het tot gevolg dat baie gebruikers en munisipaliteite min of geen geleentheid het om agter die kap van die byl te kom nie – en ook nie genoeg tyd om regsadvies te kry of voorleggings voor te berei nie.”

“Ongeag of Eskom geregtig is om hierdie skuld te eis, sal die howe waarskynlik hierdie administratiewe optrede verwerp, bloot net op prosedurele gronde. Sakeliga meen dat Eskom se pogings om op hierdie manier betalings in te vorder waarskynlik van min nut sal wees. Inteendeel – hierdie sal heel waarskynlik net lei tot verdere onkostes en litigasie.”

Sakeliga is tans ‘n amicus curiae in ‘n saak teen Eskom wat volgende jaar voor die Hoogste Hof van Appèl sal dien. Die organisasie het, op ander geleenthede, gelitigeer om munisipaliteite se kragtoevoer te beskerm waar die gepaste prosedure nie gevolg was nie.

Munisipale skuld aan Eskom het, teen Oktober vanjaar, sowat R20 miljard beloop. Sakeliga glo dat Eskom toegelaat behoort te word om hierdie skuld te verhaal, maar dat dit verkeerd sou wees om eindgebruikers te straf vir munisipaliteite se versuim om te betaal.

“Eskom is, natuurlik, geregtig daarop om munisipale skuld te eis. Telkemale is dit egter nie die eindgebruiker se skuld dat betaling nie geskied het nie – en nou loop talle onskuldige, betalende elektrisiteitgebruikers die risiko van ‘n elektrisiteitlose Desember.

Sakeliga het ‘n dringende vergadering met Eskom se bestuur versoek om oplossings vir ontoereikende munisipale bestuur te vind, soos om elektrisiteitfooie wat deur eindgebruikers betaal word te verwyder uit munisipale bestuur.

“Sonder elektrisiteit sal plaaslike besighede nie klante kan bedien of werkers in diens neem nie. As dit gebeur, kan dit moontlik die einde van daardie munisipaliteit se plaaslike ekonomie beteken – wat dit selfs nog minder waarskynlik maak dat Eskom sy skuld sal kan verhaal.”

“Dit is gegewe hierdie feit dat ons hierdie vergadering versoek het. Op die keper beskou is daar in hierdie geval ‘n groot oorvleueling tussen Eskom se belange en dié van plaaslike besighede. ‘n Billike oplossing kan daarom net tot voordeel wees vir alle betrokkenes,” sluit du Plessis af.

The post Sakeliga versoek dringende vergadering met Eskom-bestuur appeared first on Sakeliga.


Ander nuus