Sakeliga wys op gevare van beoogde grondwetwysiging oor onteiening

06 Des 2019

Die agtiende konsepwysigingswetsontwerp op die grondwet is vandag gepubliseer vir kommentaar voor einde Januarie. Die wetsontwerp spits hom toe op wysigings spesifiek rondom eiendomsreg en onteiening sonder vergoeding. Die uiteinde, indien dit deur die toepaslike prosesse sou gaan, sou wees dat dit nou moontlik sou wees om, in bepaalde omstandighede soos uiteengesit in wetgewing, geen vergoeding te betaal in die geval van onteiening nie.

Kommentaar kan ingedien word tot einde Januarie van 2020. Die wetswysiging volg op argumente in veral die ANC dat onteiening sonder vergoeding reeds moontlik was in terme van bestaande grondwetlike bepalings. Enige pogings om hierdie argumente in die hof aan te voer sou, volgens kommentators, egter waarskynlik moeilik gewees het.

“Die groot gevaar van hierdie wysiging is dat dit poog om ‘n grondwetlike reg onderhewig te stel aan wetgewing wat na willekeur deur die regering verander kan word. Dit is, uiteindelik, vir die nasionale vergadering moontlik om grondwetlike beskerming verder en verder te verskraal met ‘n gewone meerderheid. Veral gegewe die nuutste tendense in grondwetlike interpretasie, is dit duidelik dat die nuwe weergawe van Artikel 25 net skadelik kan wees,” sê Daniel du Plessis, regsontleder van Sakeliga.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, merk op: “Sakeliga onderneem om alle regs- en ander remedies toe te pas om hierdie wysiging teen te staan. Ons verwerp enige wysiging aan die Grondwet, in teks of interpretasie, wat die konstitusionele orde ondermyn. Saam met vele ander organisasies in die burgerlike samelewing sal ons die sakesektor mobiliseer om die ondermyning van eiendomsreg teen te staan en, waar nodig, om te keer.”

The post Sakeliga wys op gevare van beoogde grondwetwysiging oor onteiening appeared first on Sakeliga.


Ander nuus