Beleidsradar: ’n Nugter kritiek op ‘openbare goedere’

06 Des 2019

Dit word wêreldwyd aanvaar dat sekere goedere, sogenaamde openbare goedere, net deur die openbare sektor met regerings aan die stuur verskaf kan word. Die gedagte is dat dinge soos water, elektrisiteit, paaie, howe, opvoeding en verdediging om bepaalde redes slegs tot ’n voldoende mate deur regerings gelewer kan word.

Die markekonomie, of so redeneer ekonome in die openbare goedere-skool, sal te min van hierdie goedere en dienste produseer. Daarom moet regerings in die bres tree, mense belas, en met daardie belastinggeld openbare infrastruktuur ontwikkel.

Suid-Afrika se bedeling het duidelik by hierdie gedagte ingekoop. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal dat dit, in die eerste instansie, die Suid-Afrikaanse regering se verantwoordelikheid is om talle goedere aan die publiek te verskaf. Polisiëring, opvoeding en water- en elektrisiteitsvoorsiening is voorbeelde hiervan.

Lugrederye is tipies ook so hanteer, in SA deur middel van die SAL. Genadiglik het meeste state uiteindelik van volkome staatseienaarskap afgesien, maar SAL is ’n lewende fossielrekord van hierdie tyd.

Hierdie idees is natuurlik besonder goed gevestig – soveel so dat baie mense taamlik moeilik sluk aan die idee dat die mark óók daartoe in staat is om hierdie dienste te bied. Selfs in Suid-Afrika, waar ons deur alte duur lesse reeds geleer het hoe onbetroubaar regeringsdienste  kan wees, is daar steeds ’n gebrek aan vertroue in private paaie, private opvoeding en, ja, private krag.

Tog sien ons voorbeelde in Suid-Afrika waar die mark begin het om dienste, selfs klassieke dienste wat voorheen by die staat gerus het, te privatiseer. Daar is tans meer private sekuriteitswagte in SA as wat daar lede van die polisiediens is. Private arbitrasie is ’n reeds gevestigde praktyk wat in ’n mate met howe kan meeding. Private onderrig is ook gevestig en gaan bes moontlik net verder toeneem.

Dan is daar lugvaart, wat – aanvanklik – ook gesien is as ’n openbare diens wat deur regerings gelewer sou moes word.

Die gevolg, in Suid-Afrika se geval, is dat ons ’n besondere spanning merk in SAL. Enersyds poog die SAL om as volwaardige besigheid op te tree, maar andersyds klou dit vas aan oorblyfsels van ’n openbare goedere-benadering. So maak die maatskappy, byvoorbeeld, gereeld melding van sy ‘openbare mandaat’ as regverdiging vir sy voortbestaan te midde van swak finansiële prestasie. Hierdie fundamentele teenstrydigheid in SAL het waarskynlik ’n rol gespeel om sy omkeer te verhoed.

In die verlede is telefoonlyne (kommunikasie) ook as openbare goedere benader. Die idee dat regerings kommunikasiedienste moet voorsien was ook sterk gevestig. Dit was die geval gewees totdat nuwe tegnologie – soos selfone – nuwe markmededinging tot stand gebring het. Die nuwe mark het, as’t ware, oor die gevestigde beperkinge van die ou staatsgereguleerde mark gehop en ou regeringsmonopolieë ongedaan gemaak.

So ook is die elektrisiteitsmark besig om ’n privaatsektor-rewolusie te ondergaan. Dit raak by die dag makliker om van die elektrisiteitnetwerk te ontkoppel. Batterye soos die Tesla Powerwall en huishoudelike sonkrag is besig om Eskom se monopolie en ’n gesentraliseerde kragnetwerk al hoe meer uit te daag. Sulke tegnologie maak kragverbruikers meer pryssensitief en Eskom staan al ’n geruime tyd voor ’n toenemende uitdaging wat ekonome ’n groter vraagelastisiteit noem.

Sulke voorbeelde wys daarop dat markte tog kan toetree tot gebiede wat vantevore deur die staat vir openbare goedere afgebaken is.

Dit is nie die doel van hierdie stuk om alle argumente vir openbare goedere te weerlê nie. Ons reken bloot dat sakelui, individue en gemeenskappe, in vrywillige markte, waarskynlik heelwat verder kan gaan om alternatiewe mededingende gemeenskapsinfrastruktuur en dienste te skep in areas wat vantevore as openbare goedere en dienste beskou is.

Sekere soorte openbare infrastruktuur – soos die daarstel van nasionale paaie – is natuurlik meer kompleks. Tog sien ons heelwat volgehoue wanfunksionaliteit by regerings se lewering van hierdie dienste. Mededinging in sulke areas behoort minstens moontlik gemaak te word deur uitsluitlike statutêre voorregte vir openbare diensverskaffers te verwyder.  Eskom hoef mos nie die enigste kragvoorsiener te wees nie.

Die punt om wel te beklemtoon is dat soos tegnologieë en markmoontlikhede verander, die beleide wat regerings huldig oor openbare goedere ook moet verander.

Fundamenteel is hierdie vraag die vraag oor watter meganismes ons behoort te gebruik om hulpbronne toe te deel. In ’n land soos Suid-Afrika – met geweldig beperkte hulpbronne – behoort hierdie vraag altyd een van die eerste te wees wat ons vra.

’n Gesonde toedeling van hulpbronne word beslís nie bevoordeel wanneer regerings dienste lewer wat beter deur die mark gelewer sou kon word nie.

Die SAL is miskien ’n goeie voorbeeld. Dié instelling word minstens nou vir sakeredding gemerk, maar dit het ’n goeie aantal jare en heelwat hulpbronne uit die hande van private ondernemings geneem. Die SAL is in werklikheid  aan die lewe gehou ten koste van alternatiewe toedelings van hulpbronne in ’n vrye mark.

Om krampagtig aan openbare instellings vas te hou, is nie doeltreffende beleid nie. Daarom moet die beleid oor openbare infrastruktuur, wat ’n groot item op die nasionale regering se begroting is, baie omsigtig ontleed word.

Die resep wat tot dusver gevolg is, waar reusagtige staatsinstellings en regeringsdepartemente groot invloed op die ekonomie uitoefen, werk duidelik nie. Dit sal nalatig wees om nie mededingende opsies te oorweeg nie.

In SA, meen ons, kan die rol van markhulpbrontoedeling aansienlik vergroot en die rol van regeringshulpbrontoedeling aansienlik verklein word.

The post Beleidsradar: ’n Nugter kritiek op ‘openbare goedere’ appeared first on Sakeliga.


Ander nuus