Ledekennisgewing: Vermy die SAL

Des 02, 2019

Een van die kragtigste meganismes waarmee sakelui in die openbare belang kan optree, is markdissipline. As sakelui is u allermins met markdissipline onbekend, maar dieselfde kan nie van staatsondernemings gesê word nie – en dit verklaar baie.

Soos u weet is staatskuld in Suid-Afrika besig om krisisafmetings aan te neem. Die gevolge is veelvuldig. Dit sluit in afgraderings deur internasionale kredietgraderingsagentskappe, gepaardgaande met kapitale vloeie uit Suid-Afrika en randverswakking. En dit sluit in die druk van ‘n skuldspiraal op die fiskus – en by gevolg op die belastingbetaler – wat ‘n ernstige resessionêre impak op die ekonomie het.

Alhoewel baie staatsentiteite se finansies beroerd lyk, is SAA ‘n lakmoestoets vir die vermoë van die staat om die nodige hervormings by staatsentiteite deur te voer. Anders as met Eskom is daar in die lugvaartbedryf vele alternatiewe wat of reeds bestaan of relatief vinnig tot stand kan kom.

Tog sien ons nie die nodige hervormings by SAA nie. Ons sien nie afskaling, ontbondeling, verkoop of sluiting nie. Intussen groei die skuldgolf aan. Elke dag wat SAA oop bly vir besigheid is die fiskus nader aan ‘n krisis, die belastingbetaler meer in die knyp, die ekonomie in groter moeilikheid.

Hoe vinniger SAA tot die nodige hervorming, ontbondeling, afskaling of sluiting gedwing word, hoe beter vir almal. Daarom: om SAA verder te ondersteun is teen die openbare belang. Dit stel dalk die einde van SAA uit, maar dit vergroot drasties die uiteindelik skade aan die ekonomie en fiskus. As sakelui ‘n bydrae kan lewer om hervormings by SAA af te dwing, dan staan almal ‘n beter kans wanneer dit by die volgende en groter uitdagings, soos Eskom, kom.

As die staat nie wil óf kan ophou reddingsboeie uitdeel nie, dan moet sakelui en die publiek maar ophou passasiers wees. Dit is hoe markdissipline werk – iets wat SAA dringend nodig het, en wat ons as sakelui kan bied.

Met hierdie skrywe wil ek u dus graag versoek om, indien enigsins redelikerwys moontlik, vlugte met SAA te vermy. Die vermyding van besigheid met iemand is nie iets wat ‘n mens graag doen nie, maar onder omstandighede is dit in die openbare belang: dit minimeer skade wat andersins tot ongekende hoogtes sal eskaleer.

Lees Sakeliga se mediaverklaring

Met beste wense,

Piet le Roux
Uitvoerende hoof
Sakeliga

The post Ledekennisgewing: Vermy die SAL appeared first on Sakeliga.


Ander nuus