Mediaverklaring: Sakeliga versoek sy lede om nie SAL-kaartjies te koop nie

Des 02, 2019

Die sakeorganisasie Sakeliga het sy lede vandag versoek om, indien redelikerwys moontlik, voortaan nie SAL te vlieg nie.

“Om die SAL verder te ondersteun is teen die openbare belang. Dit stel bloot die einde van die SAL uit en vergroot op disproporsionele wyse die uiteindelik skade aan die ekonomie en fiskus. Hoe vinniger die SAL tot die nodige hervorming, ontbondeling, afskaling of sluiting gedwing word, hoe beter vir almal. Ons moedig daarom van vandag af ons lede aan om nie meer SAL te vlieg nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“As die staat nie wil of kan ophou reddingsboeie gee nie, moet sakelui en die publiek ophou passasiers wees. Dit is hoe markdissipline werk – iets wat die SAL dringend nodig het. Sakeliga sal sy versoek aan lede heroorweeg sodra voldoende markhervormings by die SAL in plek gestel word,” vervolg Le Roux.

Sakeliga se versoek aan lede volg op die versnelde ineenstorting van die SAL die afgelope maand. Verwikkelinge sluit in twee versekeringsmaatskappye se onttrekking van bankrotskapversekering vir vlugkaartjies, die opskorting van kaartjieverkope deur prominente aanlyn-kaartjieverkopers, en naderende bykomende skuldwaarborge en kontantinspuitings deur die staat.

Die SAL het die afgelope jare miljarde rande se belastingbetalersgeld ontvang. Hervormings is keer op keer belowe, maar skulde neem eenvoudig toe. Daar is geen vooruitsig dat die SAL winsgewend sal word nie. Boonop stuur verdere hulppakkette deur die staat op ‘n fiskale krisis af, gepaardgaande met afgraderings by kredietgraderingsagentskappe en wesenlike ekonomiese skade.

Le Roux het die vakbond Solidariteit se sakereddingsaansoek verwelkom: “Dit sal politieke invloed op die lugredery verminder en is klaarblyklik die beste opsie om lewensvatbare dele van die SAL te verkoop en verliesmakende dele te sluit, met so min ontwrigting moontlik vir werknemers. Gelukkig is daar ‘n suksesvolle private lugvaartbedryf in Suid-Afrika, wat vinnig enige bykomende aanbod en vraag kan absorbeer.”

Le Roux neem intussen kennis van ‘n mediaverklaring oor die SAL Sondag uit die kantoor van meneer Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings: “In die verklaring verbind die departement hom tot drastiese hervormings by die SAL, maar ongelukkig van die verkeerde soort. Dit sluit in om ‘ingrypende inisiatiewe vir groter markaandeel te onderneem’ en ‘seker te maak die SAL bly oop vir besigheid.’ Die teenoorgestelde is egter nodig, naamlik die drastiese afskaling en die ontbondeling van die SAL se bedrywighede.”

Sakeliga wil met sy versoek aan lede oor kaartjie-aankope bydra tot die nodige hervormings by die SAL.  “Ons glo dat die eskalerende skade wat die SAL veroorsaak so gou as moontlik tot ‘n einde gebring moet word. Uiteraard is daar persone in die regering wat die noodsaak hiervan insien, al kan hulle dit nie noodwendig openlik bespreek nie. Alhoewel markdissipline in die korttermyn bykomende pyn kan veroorsaak, glo ons dat verantwoordelike sakelui en die publiek hierdie persone in die regering se hande kan sterk om die onvermydelike ontbondeling en beëindiging van die SAL vinniger te bewerkstellig.”

The post Mediaverklaring: Sakeliga versoek sy lede om nie SAL-kaartjies te koop nie appeared first on Sakeliga.


Ander nuus