Beleidsradar: BEE-voldoening ’n vereiste vir eiendomspraktisyns

Nov 27, 2019

President Cyril Ramaphosa het op 19 September 2019 die Konsepwetsontwerp op Eiendomspraktisyns onderteken. Hierdie wet vervang die vorige Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede (112 van 1976, soos gewysig) en gee vir ons dieper insig in die toekomstige wendings, die resep as’t ware, in die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (BEE) op gereguleerde beroepe en industrieë.

Die resep werk soos volg: Die beheer oor die bestuur van ’n beroep of industrie word van vrywillige beroepsgroepe of professionele liggame weggeneem en met sentrale owerheidsregulering vervang.

In sodanige regulering speel die staat deur ministers en ander afgevaardigdes dan ’n baie groter, gewoonlik uitsluitlike, rol, om baie van die vereistes vir deelname aan ’n beroep of industrie te bepaal. So word heelwat gesag oor ’n industrie deur wetgewing eksplisiet aan ministers of agente van die staat oorgedra.

Waar daar miskien verskeie private bedryfs-, beroeps-, professionele, verbruikers- of industrieliggame bestaan het, of sou ontstaan het, om probleme in ’n beroep of industrie en vereistes vir deelname binne die konteks van die markproses te bepaal (dit is deel van waarde skep in markte), is daar dan net een buite-die-mark regulatoriese owerheid wat dit bepaal.

Met ander woorde, enige wettige alternatief of mededinging met sodanige liggaam self word nou feitlik onmoontlik gemaak.  Geen ander direkte markoplossing kan na vore tree om ’n alternatiewe resep vir ‘industrieregulering’ te gee nie en regulering neem dan gewoonlik ook ’n meer politieke karakter aan.

In sulke gevalle meen die vryemarkekonoom Israel Kirzner byvoorbeeld dat ’n ontwrigting van markinnovering plaasvind. Die ‘mark’ word nie verder ’n geleentheid gegun om innoverende oplossings tot industrie-, beroeps-, of verbruikersprobleme te vind nie. (Hoewel die mark vir seker die blaam sal dra vir sogenaamde ‘markfoute’ wat as die rede vir regulering aangevoer word).

Sodanige sentrale regulering stel dan verskeie, selfs bykomende, vereistes vir deelname aan ’n beroep of industrie. Selfs al mag daar gemeen word dat owerheidsregulering die enigste oplossing vir sekere probleme is, sien ons in Suid-Afrika dat regulasie nou verder strek as blote riglyne vir gedrag in ’n beroep of industrie. In die geval van eiendomspraktisyns word voldoening aan BEE nou as ’n bykomende vereiste vir markdeelname gestel.

(Dit moet genoem word dat voldoening aan BEE in die verlede, reg of verkeerd, eintlik as ‘vrywillige’ deelname beskryf is.)

Artikel 50 van die nuwe wet bepaal basies dat die Regulatoriese Owerheid oor Eiendomspraktisyns, ’n voortsetting van die Raad op Eiendomsagente, getrouheidsfondssertifikate vir eiendomspraktisyns moet uitreik.

Tot dusver was dit ook die geval dat geen eiendomsagente mag handel dryf sonder sodanige sertifikaat nie, maar Artikel 50 (a)(x) bepaal basies dat eiendomspraktisyns wat nie oor ’n geldige BEE-sertifikaat beskik nie van die uitreik van ’n getrouheidsfondssertifikaat uitgeskakel sal word.

Die bedryf was dus reeds tot ‘n mate gereguleer, maar in die nuwe wet word BEE direk gekoppel aan ander vereistes vir die uitreiking van getrouheidsfondssertifikate. Regulering gaan dus nou verder as blote oorsig oor die optrede van eiendomsagente. In effek beteken dit dat voldoening aan BEE nou as ’n vereiste gestel word om as eiendomspraktisyns te mag optree.

Dit is wel die geval dat ’n geldige BEE-sertifikaat nog redelik maklik bekombaar is vir klein- en medium ondernemings wat binne sekere perke val. Gevolglik is hierdie vereiste tans nog net ’n spreekwoordelike voet in die deur.

Tog sien ons dat die vereistes vir BEE-voldoening nie oor tyd verslap word nie, maar, inteendeel, gedurig verskerp word. Dus bestaan die moontlikheid beslis dat vereistes vir strenger BEE-vlakke later bygevoeg kan word. Ingevolge die wetgewing op voorkeurverkryging sien ons dat Vlak 1 of Vlak 2 BEE-sertifikate gereeld by tenders met die staat vereis word.

BEE word aangevoer as ’n oplossing tot SA se probleme, maar hoewel die omvang daarvan deur die politieke elite uitgebrei word, word die sukses daarvan al hoe meer in verskeie kringe bevraagteken.

Die realiteit is dat hierdie beleid die doeltreffendheid van die ekonomie ondergrawe. Dit herlei al hoe meer ekonomiese  hulpbronne vir politieke doelwitte weg van gesonde entrepreneursoordeel – en laai laste en bykomende koste op die sakesektor en produktiewe ondernemings.

Baie voorstanders is geneig om BEE met morele argumente te probeer regverdig, maar selfs diegene wat BEE voorstaan moet sekerlik erken dat ’n minder doeltreffende ekonomie uiteindelik nie regtig in die breë bemagtig nie.

Die uitbreiding van BEE soos in die wet op eiendomspraktisyns gaan nie doeltreffender sake ondersteun nie.

Luister gerus na die volgende gesprek oor BEE met die ekonoom Russell Lamberti.

The post Beleidsradar: BEE-voldoening ’n vereiste vir eiendomspraktisyns appeared first on Sakeliga.


Ander nuus