Bedryfshandelstoestande swakste sedert die 2008/09-resessie, volgens Sakeliga-ETM-verslag

Nov 21, 2019

Bedryfshandelstoestande het in die derde kwartaal van 2019 swak gebly en Suid-Afrika se handelstoestande staan tans op die swakste vlakke sedert die 2008-resessie, volgens Sakeliga-ETM se Ekonomiese Oorsig vir Besluitnemers in die Sakewêreld.

“Suid-Afrika se bedryfshandelstoestande is in die swakste posisie sedert die 2008/09-resessie. Prakties gesproke het SA jare gelede reeds ‘rommelstatus’ bereik.” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga. “Hoewel daar nie nou tekens van ’n wêreldwye afswaai is nie,” gaan hy voort, “is toestande vir bedryf en verdienste in Suid-Afrika baie moeilik. Skadelike beleid en rompslomp lei tot ekonomiese de-ontwikkeling en dit belemmer private investering en ondernemerskap. Hierdie toedrag van sake kan omgekeer word slegs deur die rol van die staat by die bepaling van hoe hulpbronne toegewys en versprei word, aansienlik te verminder.”

Volgens Van Onselen het sakeondernemings in die derde kwartaal gesukkel om hulle winsgewendheid te verbeter. Vraag onder verbruikers en maatskappye was traag. Verder is toenemende staatskuld besig om toekomstige belastingrisiko’s te verhoog terwyl die regering grootskaalse besteding handhaaf en enorme fiskale tekorte volhou.

“Daar is enkele ligpunte in die verslag, veral relatief lae oliepryse en laer inflasie in die algemeen. Lae olieprysinflasie help tans om baie ondernemings se insetkoste laag te hou en verlig die druk op verbruikers se begrotings,” sê Van Onselen.

Die verslag reken dat ‘n amptelike afgradering van die Suid-Afrikaanse regering se skuld deur Moody’s op die ou einde nie ’n groot verskil sal maak nie. Van groter belang is realiteite op grondvlak. Die uitdaging vir die Ramaphosa-administrasie is dat die skade aan die ekonomie wat reeds deur beleggers ingereken is, omgekeer moet word. Hierdie skade word reeds in ’n swakker rand, hoër rentekoerse, versigtiger banke en die vlug van mense en kapitaal weerspieël. Boonop, sê Van Onselen, is Eskom die eintlike groot risiko en moet dit die meeste aandag geniet.

Die regruk van staatsinstellings soos die SAL en Eskom het reeds hewige politieke teenkanting uit die ANC se alliansievennote ontlok. Verskeie groot reddingsboeie vir Eskom is betaal en daar is nog nie sekerheid oor die geloofwaardige van die herstruktureringsplan nie.

Sakeliga let op die minister van finansies se stellings in die minibegrotingstoespraak waar aangekondig is dat staatsinstellings reggeruk moet word en dat staatsbesteding op alle vlakke besnoei moet word. Ongelukkig is dit duidelik dat genoegsame besnoeiings moeilik uit die staat se salarisrekening sal kom. Met geprojekteerde tekorte in die orde van R300 miljard per jaar is die regering se fiskale druk besig om toe te neem. Belastingbetalers moet hulself dus staal vir verdere belastingdruk in die jare wat kom.

“Die regering het oor baie jare aansienlike fiskale tekorte gehandhaaf. Dit beteken dat Suid-Afrika ’n volgende globale resessie, sou een nou plaasvind, op ’n baie swakker voet as in 2008/09 sal binne gaan.”

Sakeliga se raad aan sakebesluitnemers is om hulle spesifieke sakerisiko’s in die konteks van de-ontwikkeling te verstaan. Sakeondernemings moet geleenthede soek om internasionale blootstelling, inkomstestroomdiversifisering buite die rand en sakemodelle wat met minder volume kan klaarkom, na te streef.

Lees die volledige verslag by die volgende skakel: https://www.sakeliga.co.za/wp-content/uploads/2019/11/Sakeliga-ETM-Ekonomiese-oorsig-vir-Besluitnemers-in-die-Sakewêreld-November-2019_Afr.pdf

The post Bedryfshandelstoestande swakste sedert die 2008/09-resessie, volgens Sakeliga-ETM-verslag appeared first on Sakeliga.


Ander nuus