Beleidsradar: SA Reserwebank steeds in die spervuur van nasionalisering?

Nov 14, 2019

Julius Malema se wetsontwerp wat poog om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te ’nasionaliseer’ is onlangs weer in die lewe geroep. Dié wetsontwerp het in Mei 2019 verval, maar is in Oktober 2019 deur die nasionale vergadering voorgelê vir heroorweging. Sien die wetsontwerp op die PMG se blad.

Die wetsontwerp beoog hoofsaaklik om die SARB se private aandeelhouers van hul aandeelhouding te ontneem en die staat alleenaandeelhouer te maak. Die kommer oor hierdie wetsontwerp is dat dit ’n proses van ‘politieke kaping’ van die SARB, soos die ekonoom Russell Lamberti dit noem, sal versnel.

Lamberti verduidelik gereeld oor die gevaar sou die SARB verander word van ’n sogenaamde ‘bankiers se sentrale bank’ – wat dit tans nog min of meer is – tot ’n politici-se-sentrale bank wat vir eng politieke belange misbruik word.

Die SARB se raad

Tot op hede het die SARB nog private aandeelhouers wat matige seggenskap oor die bank se raad uitoefen. Sulke aandeelhouers het ’n nominale invloed op die SARB wanneer dit kom by die aanstelling van raadslede.

Voor 2010 het die uitvoerende gesag 50% van die bank se raadslede aangewys en private aandeelhouers 50%.

Hoewel private aandeelhouers nie ’n direkte invloed op die bank se monetêre beleid uitoefen nie, het hulle wel ’n indirekte invloed gehad op die aanstelling van lede van die raad (wat beslis oor die monetêre beleid).

’n Private aandeelhouer het gewoonlik een stem per 200 aandele bekom en daar is twee miljoen aandele.

Om vinnig te verduidelik, monetêre beleid is daarop gefokus om die geldeenheid van ’n land te bestuur. Monetêre owerhede, soos ’n sentrale bank, bepaal byvoorbeeld repokoerse en reserwes van geld wat kommersiële banke moet hê.

Hierdie beleid beïnvloed dan uiteindelik hoeveel rande daar in die ekonomie is teenoor ander goedere en dienste. Kortliks gestel, die beleid bepaal hoeveel jy met elke rand kan koop.

In 2010 is die vorming van die SARB se raad reeds aangepas. Private aandeelhouers se seggenskap oor die aanstelling van direkteure is deur ’n 2010 wysigingswetsontwerp afgewater. Sedertdien mag private aandeelhouers slegs stem oor sewe kandidate wat deur ’n interne paneel van die bank bevestig is.

Die paneel wat in die 2010 wetswysiging in die lewe geroep is kantel duidelik na ’n sterker invloed van die regerende  politici of, ten minste, weg van die selfs matige seggenskap van private aandeelhouers af.

Die paneel waarna verwys word bestaan uit die president van die SARB (as voorsitter, wat deur die uitvoerende gesag verkies is) en ’n oudregter en een ander persoon, wat albei deur die minister van finansies aangewys word. Dan word drie ander persone deur Nedlac aangewys. Raadslede wat deur private aandeelhouers genomineer word om ingestem te word, moet eers deur dié paneel bevestig word om te kan staan vir ’n stemming.

Malema se wetsontwerp sal beteken dat geen private aandeelhouer meer enige seggenskap oor die direkteure se aanstellings sal oorhou nie. Dit laat die Bank se raad dan suiwer in die hande van ANC-meerderheidsregering.

Ons hoef nie te veel tyd te spandeer om die risiko’s uit te lig van wat kan gebeur wanneer ’n sentrale bank vir eng politieke doelwitte gekaap word nie. Die meeste van ons is bekend met Zimbabwe se hiperinflasie van die laat 2000s. Die sentrale bank van Zimbabwe het bloot die geldvoorraad reusagtig verruim en uiteindelik tot niet gemaak.

’n Politieke SARB hoef ook nie ’n hiperinflasie af te skop om skade te veroorsaak nie. Dit kan bloot ’n onbehoorlike verruiming van die geldvoorraad van stapel laat loop (as’t ware meer rande ‘druk’) om diegene naaste aan die politieke magsentrum, diegene naaste aan die ‘pas gedrukte’ geld,  te bevoordeel. So ’n bevoordeling los dan die res van die land met ’n swakker geldeenheid wat minder kan koop.

Gevolglik reken ons dat enige moontlike stappe wat dui op ’n politieke kaping van die SARB moet bekommer.

Ons kan wel redeneer oor die eintlike waarde van private aandeelhouers by sentrale banke, en of die skans wat die bank se sogenaamde ‘onafhanklike mandaat’ bewerkstellig nie tog voldoende is nie. Onder die huidige president van die SARB, Lesetja Kganyago, se leiding is ’n meer konserwatiewe benadering tot monetêre beleid gevolg, soveel so dat heelwat partye tot dusver die beleid as te terughoudend beskryf het.

Prakties gesproke is dit maar moeilik om te glo dat voorstelle soos Malema se wetsontwerp nie poog om politieke invloed oor die bank te verskerp nie. En gegewe die moontlike gevare en verreikende gevolge van sentrale bank-misbruik is dit beslis nodig om verwikkelinge by die SARB op die Beleidsradar te plaas en dop te hou.

Kyk gerus na Russell Lamberti se praatjie oor die SARB by ’n onlangse funksie van die Vryemarkstigting.

The post Beleidsradar: SA Reserwebank steeds in die spervuur van nasionalisering? appeared first on Sakeliga.


Ander nuus