Beleidsradar: Kommentaar op die mediumtermynbegroting

Nov 11, 2019

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het verlede week die mediumtermyn-begrotingbeleidstelling vir Oktober 2019 gelewer. Die minister het, heeltemal korrek, uitgewys dat die mediumtermynbegroting nie die hoofbegroting is wat gewoonlik elke jaar in Februarie gelewer word nie.

Gegewe die erns van die fiskale situasie en swak ekonomiese prestasie van die plaaslike ekonomie is dit te verstane dat daar heelwat verwag is van Oktober se begroting. Die begroting was ongelukkig eerder futloos en teleurstellend. Die harde werklikheid waarheen die begroting wys is dat politiek tans pogings om sinvolle hervorming troef.

Sakeliga se aanvanklike reaksies op die begroting word vervat in die volgende mediaverklaring.

Die minister kon klaarblyklik slegs binne ’n nou reeks huidige politieke beperkinge beweeg. Ons moet onthou die nasionale begroting is nie ’n proklamasie nie, maar ’n dokument waaroor die parlement moet saamstem en wat dit moet aanvaar. Dit blyk dat pogings tot hervorming vasgevang is in ’n hoogs disfunksionele traagheid.

Op hierdie dringende tydstip vereis effektiewe hervormings ’n ernstige strewe na markvryheid, deregulering en ’n afskaling van die Staat se uitgebreide betrokkenheid by en sê oor die ekonomie. Ten spyte van verklarings oor bedoelde hervormings is baie staatsdepartemente nog besig om wetsontwerpe, beleide en regulasies wat in stryd is met markvryheid voor te stel.

Die toerisme-afdeling poog om korttermyn huisverhurings nog verder te reguleer, en Menslike Nedersettings wil verder sentrale regulering van huisbouers hê. Die departement van ekonomiese ontwikkeling beoog maatreëls vir sterker kompetisie-ingryping – selfs in die trant van rasgebaseerde bemagtiging.

Selfs as Minister Mboweni werklik hervorming najaag (sy onlangse beleidsdokument, hoewel beter as heelwat voriges, is nog steeds ’n bietjie van ‘n mengelmoes), word hy skynbaar ernstig ingeperk deur politieke realiteite.

So ’n toedrag van sake is hoogs teenproduktief en belemmer stappe in die rigting van die verbetering van die funksionering van vrye markte, handel en entrepreneurskap.

Die begroting se logika

Die logika agter die begroting is klaarblyklik dat ’n versigtige “balanseertoertjie” van nuwe belastingmaatreëls en ’n stadiger tempo van toename in besteding voldoende sal wees om met verloop van tyd die fiskale tekort te beperk. Die werklikheid is dat fiskale stres in Suid-Afrika (sien grafiek hieronder) geleidelik toegeneem het oor etlike jare. Geprojekteerde fiskale stres is nou selfs hoër onder president Ramaphosa as wat dit was vir die grootste deel van voormalige president Zuma se termyn.

Die begrotingstekort word gedryf deur sterk gevestigde “politieke eise” op die belasting-afhanklike fiskus. Politieke beloftes skep, soos altyd, verwagtinge wat besteding dryf. As hierdie verwagtinge onrealisties is, verhoog die waarskynlike risiko’s natuurlik.

Die jinn van staatsbesteding is as’t ware heeltemal uit die bottel. Voorbeelde sluit in “fooi-vrye” hoër onderwys, verwagtinge van bo-inflasie verhogings in regeringsalarisse en “gratis” gesondheidsorg (NGV), onder andere. Minister Mboweni staar ’n aantal sulke feitlik “onaantasbare” staatsbestedingsprioriteite in die gesig. Hierdie prioriteite is natuurlik in die eerste plek deur die politiek gevorm, en hulle sal nie ingekort word sonder ernstige teenkanting nie.

Op die ou end voorsien die Oktoberbegroting marginale besnoeiïngs wat nie genoeg doen om die dreigende fiskale werklikhede aan te pak nie. Ons argumenteer dat bestedingskortings veel meer verreikend moet wees. Die MTBPS se realiteit is een van aansienlike (selfs onvolhoubare) regeringsbesteding (~32% van die BBP), swak en twyfelagtige besteding van groot belastingbedrae en ’n klein belastingbasis waarop die hele struktuur rus.

Die kersie op die koek is toenemende wetgewende remme en hekkies in die pad van vrye handel en entrepreneurs, wat nog steeds ’n werklikheid is in heelwat sektore. Talle sektore van die ekonomie voorspel meer swaar staatbetrokkenheid, wat onderduimse aansporings ten koste van markvryheid skep. Sektore soos die eiendomsektor is reeds onderhewig aan selfs dieper anti-mark ingryping.

Moet dit ons dan enigsins verbaas wanneer die fiskale werklikheid van skuld, tekorte en verswakkende belastinginvordering skynbaar net vererger?

Die MTBPS self bring weinig wat nuut is. Baie ontleders voorspel belastingstygings in die 2020-begroting, wat nie ’n groot verrassing is nie. Nietemin is die werklikheid dat ons moontlik die kantelpunt oorgesteek het waar nuwe belastingstygings waarskynlik nie veel kan bydra tot staatsinkomste nie. Addisionele belastingstygings kom egter nooit sonder ekonomiese opwegings nie. Na ons beraming is stygings besig om al hoe duurder te word in terme van ekonomiese aktiwiteit – miskien selfs vanuit die regering se eie perspektief. Op die ou end is steeds hoër belasting ’n onwaarskynlike aanspraakmaker op ’n “pro-groei” ekonomiese beleid.

Eskom

Ten spyte van die nuwe voorstelle duur die Eskomkrisis voort. Die begroting bevestig verdere ondersteuning aan Eskom, wat klaarblyklik ad infinitum om ten minste R23 miljard per jaar vir die volgende tien jaar te wees.

Eskom vereis ernstige hervormings en privatisering, maar hierdie stappe word hand en tand deur sekere georganiseerde arbeidgroeperings bestry. Minister Mboweni het gevra vir strenger beheer oor Eskom, iets wat ons al baiekeer vantevore gehoor het. Verder weet Minister Mboweni sekerlik dat of ’n mens dit nou ’n “inspuiting” of ’n “lening” noem die effek dieselfde is as Eskom nie kan betaal nie.

Die skeiding van Eskom in drie regspersone word aangebied as ’n oplossing, maar sal tyd neem, waarskynlik langer as geraam in die begrotingsrede. Dit is nie sonder risiko nie. Wetlike skeiding is ook nie ’n wondermiddel nie. Die kernvraag is of die skeiding markkragte, geldige prysseine, entrepreneursinsig, privaat kapitaalvorming en verminderde morele gevaar in die elektrisiteitsektor sal instel. Sonder die dissipline van markkragte kan die wetlike skeiding van Eskom niks meer as blote vensterversiering beloop nie.

Salarisse

Terwyl die minister ’n beroep doen vir besnoeiïngs in staatsalarisse, kan die mediumtermynbegroting in werklikheid net die spoed verminder waarteen staatsalarisse sou gegroei het. Staatsalarisse vereis meer ernstige besnoeiïngs, miskien selfs in reële terme. Maar besnoeiïngs van enige betekenisvolle orde is nie op die kaarte sonder ernstige arbeidkonflik nie.

Laastens het Minister Mboweni die Tesourie se beleidsdokument en hervormings genoem, soos toerismebevordering, die besnoeiïng van rompslomp en verlaging van  regulerende laste, en toelaes vir kleinskaalse kragprojekte. Dit mag goed en wel wees, maar die onderliggende probleem, dink ons, is die bevelstelsel wat in die eerste plek oormatige staatbetrokkenheid in die sakesektor veronderstel.

Regeringsamptenare let dikwels op die behoefte aan groei (maar kwalifiseer dit met die term “inklusiewe”, wat natuurlik nog steeds volgehoue staatsinmenging beteken, selfs rakende die vorm wat groei self moet neem). Baie amptenare bly grootliks toondoof vir die teenproduktiewe aard van skadelike beleide wat hulle die privaat sektor oplê of daarvoor beplan. Om dit eenvoudig te stel ondermyn onverstandige, duur en skadelike staatsbeleid werklik ekonomiese vooruitsigte.

Om Suid-Afrika se toenemende ekonomiese krisis op te los, moet die staat in werklikheid meer “leef-en-laat-leef” met die ekonomie wees. Dit moet beleide soos BEE, AA en ander sentraliserende bevelstrukture en regulasies, wat vreedsame en produktiewe ekonomiese aktiwiteit belemmer, heroorweeg. Dit moet ook ophou om nuwe anti-mark beleide goed te keur.

Minister Mboweni blyk om tot ’n mate die potensiaal van markte te begryp. Die uitdaging is egter om sy party en ander gevestigde politieke belange te kry om saam te stem, of allerminste uit die mark se pad te kom.

The post Beleidsradar: Kommentaar op die mediumtermynbegroting appeared first on Sakeliga.


Ander nuus