Sakeliga stel waardeaanbod vir sakekamers bekend

Okt 29, 2019

Die sakeorganisasie Sakeliga stel op 11 November 2019 sy nuwe affiliasieprogram en waardeaanbod vir sakekamers bekend. Met reeds meer as 12 000 lede plaas die jongste uitbreiding Sakeliga op koers om die grootste sakeorganisasie in Suid-Afrika te word.

“Sterk sakekamers staan tussen die sukses of mislukking van ‘n dorp of stad,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Wanneer sakekamers boonop in ‘n nasionale en internasionale netwerk ingeskakel is, vermenigvuldig hul welvaartskapping en bedingingskrag – dit is ons doel. Met hierdie bekendstelling wys ons vir sakekamers hoe ons hul kostes kan afbring, inkomste kan verhoog, netwerk kan versterk, lede kan vermeerder, kommunikasie kan vergemaklik, met regshulp kan bystaan, en baie meer.”

Die waardeaanbod vir sakekamers is die jongste in ‘n reeks uitbreidings by Sakeliga, en volg op die bekendstelling van Sakeliga se nuwe digitale sakeplatform, Sakeplein in Oktober.

Minder politiek, meer besigheid

“By Sakeliga glo ons in minder politiek, meer besigheid. Daarom wil ons unieke antwoorde – besigheidsantwoorde – op die probleme in Suid-Afrika moontlik maak. Die uitdagings is welbekend: Nie net is meeste munisipaliteite bankrot en disfunksioneel nie, maar so ook is ‘n kombinasie van onvermoë en slegte beleid besig om op nasionale vlak groot ekonomiese skade aan te rig.”

“Om dit op te los sal selfstandige, selfregulerende sakegemeenskappe nodig wees, om vir hulself en alle gemeenskappe waar hulle sake doen waarde te skep en wins te maak. Daarvoor skep Sakeliga nou die institusionele infrastruktuur: om sakelui in staat te stel om op plaaslike vlak saam te werk en terselfdertyd te put uit die skaalvoordele en kapitaalmobiliseringsvermoë van ‘n nasionale en internasionale sakenetwerk.”

Internasionaal

Die bekendstelling van Sakeliga se affiliasieprogram volg ook op die organisasie se internasionale skakeltoer in September 2019.

“Daar is vandag derduisende Afrikaanse en Suid-Afrikaanse sakelui, wat tot ‘n groot mate ‘n waarderaamwerk deel, versprei oor die hele wêreld. Met ons waardeproposisie vir sakekamers en ons digitale sakeplatform, Sakeplein, wil ons hierdie sakediaspora versterk en in staat stel om binne ‘n vertrouensnetwerk met mekaar besigheid te doen. Daar is geen rede hoekom ‘n ekonomie vandag slegs binne ‘n staat hoef te bestaan nie.”

Sakeliga beoog om sy plaaslike sakekamer-affiliasies in die loop van 2020 met internasionale affiliasies van Afrikaanse en eks-Suid-Afrikaanse sakegroepe aan te vul.

Aanvullend tot bestaande affiliasies

Sakeliga se affiliasieprogram is ontwerp om aanvullend te wees tot enige ander sakekamer-affiliasieprogram, gegrond op ‘n gedeelde waarderaamwerk en stel geen vereistes van ekslusiewe affiliasie nie.

“Ons weet baie sakekamers het lang verbintenisse met ander nasionale en internasionale sakekamerorganisasies. Sakeliga verwelkom en respekteer dit. Daarom plaas ons nie ‘n vervangende nie, maar ‘n unieke waarde-aanbod op die tafel. En daarom verwelkom ons dit as sakekamers wat by Sakeliga affilieer ook by ander organisasies geaffilieer bly,” sê Le Roux

Selfstandigheid en onafhanklikheid

Onafhanklikheid en die handhawing van die selfstandigheid van sakekamers is vir Sakeliga ‘n prioriteit, sê Le Roux. “Ons affiliasieprogram respekteer volkome die onafhanklikheid en selfstandigheid van plaaslike sakekamers. Ons doel is om ‘n sterk netwerk te bou, ondersteuning te beid, en sinergie te vind, nie om op plaaslike vlak by sakekamerbestuur betrokke te raak nie. Ons fokus is sistemies, nasionaal en internasionaal.”

Waardeproposisie

Die vier belangrikste komponente van die Sakeliga-waardeaanbod is as volg:

  1. Sakekamers kry toegang tot ‘n volledige sakekamerbestuurstelsel op Sakeliga se nuwe digitale sakeplatform, Sakeplein. Hierdie bestuurstelsel is ‘n sakekamer-in-‘n-boks, toeganklik vanaf enige rekenaar en selfoon. Dit bring lede in kontak met mekaar, vorder outomaties ledegelde in, maak kommunikasie maklik, hanteer funksies en kaartjies, hanteer betalings en fondswerwing, en meer.
  2. Sakekamers en hul lede word deel van ‘n nasionale en internasionale netwerk van sakelui wat kan saamwerk om gunstige ekonomiese omgewings te skep. Sterk sakekamers kan die verskil wees tussen ‘n dorp of ‘n streek se ekonomiese sukses of mislukking. Deur saam te werk kan sakekamers regskostes afbring, ontwikkelingsprojekte doen, beter met owerhede beding, beter samewerkinge met gemeenskapsorganisasies kry, en meer.
  3. Sakekamers se lede kry toegang tot groter ledevoordele, deur basiese Sakeliga-lidmaatskap en afslag op hoër lidmaatskapvlakke. Huidige Sakeliga-ledevoordele sluit in navorsing en ontledings, regshulp, verskeie kortingvoordele en meer.
  4. Sakekamers kan hul ledegetalle en inkomste verhoog. Sakeliga sal sy meer as 12 000 lede wat nie by sakekamers aangesluit is nie aanmoedig om by geaffilieerde sakekamers aan te sluit. Vir alle sakekamerlede wat op hul beurt by Sakeliga aansluit sal Sakeliga ‘n deel van die ledegeld aan sakekamers skenk.

Ope uitnodiging

Die geleentheid is oop vir alle sakelui en sakeverteenwoordigers, maar voorafregistrasie word vereis. Daar is slegs 100 plekke beskikbaar. Registrasie geskied aanlyn, by www.sakeplein.com/events/25492

Tweede funksie op selfde dag: buitelandse sakeseminaar

In samewerking met die Belgiese/Vlaamse beleggingsagentskap ,Flanders Investment and Trade bied Sakeliga vanaf 11:30, ook op 11 November 2019, ‘n buitelandse sakeseminaar.Die funksie is gratis, maar plek is beperk. Gaste van die sakekamerfunksie wat ook die buitelandse sakeseminaar wil bywoon en die dag met ‘n Belgiese bier afsluit, kan hul plek hier reserveer: https://sakeplein.com/events/25480.

The post Sakeliga stel waardeaanbod vir sakekamers bekend appeared first on Sakeliga.


Ander nuus