Sakeliga eis dat Aptekersraad sy opdrag terugtrek dat lede steun vir NGV belowe

Okt 15, 2019

Die sakeorganisasie Sakeliga het vandag daarop aangedring dat die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR) ’n opdrag aan sy lede dat hulle steun vir die Nasionale Gesondheidversekering (NGV)-skema moet belowe terugtrek.

Sakeliga se brief aan die SAAR kom nadat lede op Maandag 15 Oktober briewe van Amos Masango, registrateur en uitvoerende hoof van die SAAR, begin ontvang het. Die briewe gelas die lede bloot ‘Please complete the attachment to this e-mail with the words: “I, as a Pharmacy Professional, support NHI”’, en om dit nie later nie as 25 Oktober aan Masango terug te stuur.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die briewe beteken dat ondernemings en beroepslui in die farmaseutiese bedryf gedwing word om politieke verbintenisse en bekentenisse te maak. ‘Dit is onaanvaarbaar dat ’n statutêre liggaam met ’n monopolie om toetrede tot die farmaseutiese bedryf te reguleer, rekord hou van die politieke oortuigings en verbintenisse van sy lede.’

Le Roux gaan voort: ‘As die SAAR regtig die menings van sy lede wil inwin, moet hy dit anoniem doen. Die feit dat die SAAR van sy lede vereis om hulself in hierdie proses te identifiseer, skep die redelike verwagting dat die SAAR hierdie inligting in die toekoms vir onredelike en moreel onaanvaarbare doeleindes kan gebruik.’

‘Die presedent wat hier deur die SAAR geskep word, hou ernstige bedreigings in vir die vryhede en regte van sakeondernemings en beroepslui in enige bedryf. Ons het dus by mnr Masango daarop aangedring dat die SAAR sy opdrag aan lede terugtrek. In ons brief aan hom (aangeheg) waarsku ons ook teen die komplikasies indien die SAAR sou weier om sy opdrag terug te trek en ons begin met regstappe om al die boodskappe van SAAR-lede te verkry,’ sê Le Roux.

Lees Sakeliga se brief aan Amos Masango HIER.
Lees die boodskap wat aan SAAR-lede gestuur is HIER.
SAAR-lede is gevra om HIERDIE dokument te onderteken en terug te stuur.

The post Sakeliga eis dat Aptekersraad sy opdrag terugtrek dat lede steun vir NGV belowe appeared first on Sakeliga.


Ander nuus