Regulasies: Wetsontwerp op die Beskerming van Behuisingsverbruikers 2019 – Konsepwetsontwerp

Okt 02, 2019

Die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie het die Wetsontwerp op die Beskerming van Behuisingsverbruikers van 2019 vir kommentaar gepubliseer.

Die wetsontwerp is bedoel om die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers van 1998 (gewysig in 2008) te wysig. Die wetsontwerp is nog in konsepvorm en daarop gerig om die Nasionale Registrasieraad van Huisbouers (NHBRC) uit te brei. Dit maak voorsiening vir die voortsetting van die NHBRC in ’n uitgebreide Nasionale Raad vir die Regulering van Huisbouers.

Lees die wetsontwerp en sy doelwitte op die volgende webblad. Neem kennis dat kommentaar nie later nie as op 29 Oktober 2019 deur die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie ontvang moet word.

Bedrywe wat die meeste geraak word

Die bedrywe waarop die wetsontwerp waarskynlik die grootste invloed sal hê, is onder meer bedrywe wat met boukontrakteurs, eiendomsontwikkelaars en die verskaffers van instandhoudings-, opknappings- en hersteldienste verband hou.

Behuisingsverbruikers moet ook die waarskynlike impak in ag neem wat die wetsontwerp op die voorsiening en koste van nuwe geboue, aanbouings, herstelwerk en opknappings sal hê.

Eerste gedagtes oor die wetsontwerp se ekonomiese impak (nie formele kommentaar nie)

Hoewel die bedoelings van die wetsontwerp, wat as die beskerming van behuisingsverbruikers beskryf word, bewonderenswaardig lyk, kan goeie bedoelings nooit die maatstaf wees vir hoe suksesvol wetgewing of intervensies is nie. Enige voordele wat wette en regulasies oplewer, kom noodwendig teen ’n koste. Die vraag is of die voordeel van die wetgewing inderdaad groter is as die koste daarvan.

Soos met enige beleidsvoorstel, moet ons nie net ’n wet se bestaande en sigbare uitkomstes ondersoek nie; ons kan byvoorbeeld in hierdie geval selfs bevraagteken hoeveel wesenlike voordele het die NHBRC werklik geskep? Ons moet ook oorweeg of ’n voorgestelde wet waarskynlik ernstige onbedoelde of teenproduktiewe gevolge sal oplewer.

Dit kan aweregse aansporings (soos dié wat ons in gereguleerde monopolieë sien), gunsbejag en korrupsie wees, of meebring dat markgebaseerde oplossings, wat ’n antwoord op die reguleerder se kwellings sou wees, uitgerangeer word. Markgebaseerde oplossings, moet mens onthou, vra nie belastingheffings en ’n duur staatsamptenary om te administreer nie.

Veral belangrik is dat mens moet onthou regeringsopdragte oor produkte se gehalte, verbetering en waarborge, kan slegs teen ’n ekonomiese koste kom. Dit is byvoorbeeld sekerlik binne die vermoë van hedendaagse ingenieurs om huise te bou wat honderde jare sal hou en kategorie vyf-orkane weerstaan, terwyl hulle slegs die son nodig het vir krag. Duidelik sal sulke projekte egter onmoontlik duur en vir die meeste van ons ontoeganklik wees.

Tot die uiterste gevoer, kan ons maklik sien dat ’n regulasie soos ’n ekstreme standaard vir gehaltebouwerk, wat byvoorbeeld kan vereis dat nuwe geboue gebou moet word om minstens tien duisend jaar te hou, eenvoudig te duur sal wees vir die verbruikersmark om te hanteer.

Verder is dit onwaar om eenvoudig te sê die markekonomie sal geen beskerming bied aan verbruikers nie. Verseker sal nie alle bouers roekeloos bou en projekte oneerlik hanteer nie. Skade aan hul reputasie en die verlies van toekomstige bouprojekte, asook aanspreeklikheid ingevolge die gemenereg sal talle daarvan weerhou (en doen dit ook) om roekeloos op te tree.

Boonop sou daar op die mark bouverenigings, agentskappe vir verbruikersinligting en selfs private organisasies vir die sertifisering van bouers tot stand kon kom en as ’n vorm van beskerming dien.

Verder sou bou-ooreenkomste klousules kon bevat oor aanvaarbare gehalte en voorsiening maak vir boetes. Betroubare regsfirmas sou selfs aangestel kon word om die uitmaak van fakture op grond van vordering te hanteer en geld in trust te hou totdat ’n projek afgehandel is. Maatreëls soos dié sal waarskynlik selfs sonder die nasionale regering se regulasies getref word.

Die voordeel van hierdie “vryemark” stand van sake is dat daar kompetisie onder die verskillende “regulerende” agentskappe sal wees. Dié soort mededinging laat verbruikers ook toe om die mate van beskerming te kies waarmee hulle gemaklik is.

In alle billikheid, reguleerders se aanname, soos ook uit hierdie wetgewing blyk, is dat markgebaseerde vorms van verbruikersbeskerming “ondergeproduseer” sal wees. Dit is die veronderstelde “onderproduksie” van verbruikersbeskerming wat beskou word as regverdiging om in te gryp.

Die onvermydelike resultaat van sodanige ingryping met regulerings-, voldoenings- en registrasievereistes is egter dat dit só vir alle verbruikers duurder word om bouwerk, opknappingswerk en herstelwerk te laat doen.

Duurder projekte sal beteken die boubedryf in die algemeen sal minder sake doen, terwyl sekere verbruikers, wat moet besluit wat hul volgende stap is, kan besluit om nie nuwe projekte, herstelwerk en opknappings aan te pak nie – wat sekerlik verbruikers se lewensgehalte sal beïnvloed.

Verskaffers in die boubedryf kan minder sake doen en daaronder ly as minder bouprojekte onderneem word. Soos altyd die geval is, sal moeiliker voldoeningsvereistes waarskynlik as ’n vorm van beskerming dien vir groot en gevestigde maatskappye met groot voldoeningsafdelings, maar terselfdertyd as toetreeversperring vir kleiner en nuwe maatskappye dien.

Regulering moet op die ou end sorgvuldig geëvalueer word. Bedryfsregulering is ook in die algemeen ’n ingewikkelde affêre. Om produkgehalte en verbruikersbeskerming op gepaste wyse op te weeg teen die bykomende koste wat regulering meebring, is nie so eenvoudig soos die wetmakers miskien wil glo nie.

Terwyl ons inderdaad simpatiek staan teenoor die behoefte om verbruikers in die behuisingsmark te beskerm, is ons nie seker die noodwendige gevolge en koste van die voorgestelde wetgewing is deeglik genoeg deurdink nie.

Ons sal kommentaar soos hier aangedui oor die wetsontwerp voorberei.

The post Regulasies: Wetsontwerp op die Beskerming van Behuisingsverbruikers 2019 – Konsepwetsontwerp appeared first on Sakeliga.


Ander nuus