Alhoewel Moody’s geduldig bly, span die skuldstrik waarin Suid-Afrika sit ál stywer

Okt 02, 2019

Outeur: Jana van Deventer, ETM

Moody’s het sy jaarlikse spitsberaad oor Afrika suid van die Sahara op Dinsdag 10 September in Johannesburg gehou. Vergeleke met die S&P-kongres wat in April vroeër vanjaar gehou is, was die bywoningsyfer relatief laer. Die geleentheid het geen nuwe inligting van ’n wesenlike aard oor die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie opgelewer nie, maar tog ’n kykie gebied in Moody’s se siening van die land asook risiko’s wat vorentoe aan die graderingsfront kan wag.

Terwyl Moody’s oënskynlik traag is om Suid-Afrika se kredietgradering te verlaag, lyk ’n uiteindelike afgradering tot onder beleggingsgraad steeds onvermydelik, als in ag genome, tensy die regering momentum kan opbou met die inwerkingstelling van hervormde ekonomiese beleid.

Uit vorige ervaring lyk dit egter hoogs onwaarskynlik, en ETM Analytics se siening is daarom steeds dat dit vir die land moeilik sal wees om nie tot in rommelstatus af te gly nie.

Agteruitgang in die wêreldomgewing vererger die gevare vir plaaslike groeivooruitsigte

Die voorbereide praatjies was toegespits op faktore soos die styging in die effekteopbrengste van die belangrikste ontwikkelde markte, wat negatiewe opbrengste bied en toenemende risiko’s vir die wêreldekonomie inhou. Verder was groei, finansiële bestendigheid en politieke risiko’s die drie grootste gevare wat Moody’s uitgelig het wat betref die kwesbaarheid van ontluikende markte. Aan die ander kant het Moody’s handel, demografie, tegnologie en OMB (omgewing-, maatskaplike en bestuursaangeleenthede) as potensiële veranderingsaandrywers van sukses geïdentifiseer. Sprekers het in al die verskillende sessies van die dag taamlik klem gelê op die OMB-aspek en dié maatstawwe sal verskerpte aandag geniet wanneer lande en maatskappye se graderings in die toekoms oorweeg word.

Die sessie wat op die soewereine gradering toegespits was, het bevestig wat baie reeds weet, naamlik dat die ekonomie onder groot druk bly en die land se groeipotensiaal deur strukturele knelpunte aan bande gelê word, onder meer lae produktiwiteit, lae bruto vaste kapitaalvorming, gedempte sentiment en perke aan die hervormingsproses. Moody’s het sy vooruitskouings vir die BBP in 2019 en 2020 op onderskeidelik 0,7% en 1,5% gestel, wat beteken groei sal na verwagting in die komende kwartale versnel as mens in ag neem dat die BBP in die eerste helfte van die jaar met slegs sowat 0,4% op ’n jaargrondslag uitgebrei het. Dit is onduidelik waaraan die hoër verwagte groei toegeskryf word en die risiko’s wat dié ramings in die gesig staar kan die syfers laer laat neig, gesien die toenemende druk wat die volwasse en afplattende internasionale sakesiklus meebring.

Dit gaan als oor die staatskas en volhoubaarheid van die staatskuld

Eskom het prominente aandag geniet. Die jongste reddingsboei word as ’n korttermynoplossing vir die staatsonderneming se enorme aantal probleme beskou en ’n reusetaak wag nog op die regering om die nutsmaatskappy te herstruktureer ten einde sy operasionele en finansiële volhoubaarheid (ook die volhoubaarheid van sy skuld) te verseker. Vrae oor Moody’s se siening daarvan om voorgeskrewe bates te gebruik om pensioenfondse te tap vir geld om Eskom uit sy verknorsing te red, is nie beantwoord nie.  Blykbaar is Moody’s se standpunt oor die kwessie dat te min besonderhede beskikbaar is om tot ’n konkrete gevolgtrekking te kom oor wat dit vir die land se kredietgradering kan beteken. Sy uiteindelike reaksie sal waarskynlik wees om dit teen te staan.

Moody’s het veral op fiskale besteding in die algemeen gefokus en sy standpunt het die indruk gewek dat die agentskap simpatiek staan teenoor die regering en die beperkings waarmee hy te kampe het, veral in die konteks van sy rol om herverdeling te bewerkstellig. Dit is duidelik dat die agentskap steeds ’n mate van vertroue het in die Ramaphosa-administrasie, wat deur Moody’s aangeprys word as “uiters hervormingsgesind”, al het die agentskap meermale beklemtoon dat hy skepties bly oor die regering se vermoë om hervormings in te stel wat broodnodig is vir groei.

Wat die dinamika van regeringsinkomste betref, is melding gemaak van druk wat uit voortslepend gedempte groei voortvloei. Meer opmerklik was miskien die antwoord op ’n vraag oor of die kredietgraderingsagentskap ondersoek ingestel het na hoe die emigrasie van vaardighede moontlik strukturele druk op belastinginkome plaas. Anekdotiese bewyse dui daarop dat hoogs geskoolde individue groener weivelde in die buiteland opsoek en dié tendens die risiko inhou dat dit ’n reeds oorspanne belastingbasis verder wegkalwe. Moody’s het aangedui hy sal die samestelling van die belastinginname en moontlike skuiwergate in die stelsel ondersoek en voorts gesê hy sal die emigrasiesyfers moet monitor om duidelikheid te verkry oor hoe dit die belastingbasis kan beïnvloed.

Wat die skulddienskoste betref: dit lyk na die komponent wat taamlik kommer wek, met goeie rede. Versuim om sy skuldterugbetalingskomponent te bedwing, hou groot risiko vir Suid-Afrika in. ’n Verdere verhoging in die land se risikopremie of agteruitgang in beleggersvertroue, byvoorbeeld, kan die terugbetalingslas proporsioneel laat toeneem deurdat rentekoerse verhoog. Die agentskap hou die land se gevoeligheid vir sy skuldlas en beleidmakers se geloofwaardigheid, asook hul vermoë om te reageer, met ’n arendsoog dop.

Dit is insiggewend dat ofskoon kommer oor die skuldlas steeds heers, Moody’s wel die struktuur van die land se skuld as ’n ondersteunende faktor uitgelig het. Dié siening berus op a) die termynprofiel van die land se skuldprofiel, b) hoe die grootste deel van die staat se skuld in rand gedenomineer is en c) die regering se beperkte blootstelling aan buitelandse valutarisiko ondanks die groot persentasie buitelandse eienaarskap van plaaslike effekte. Laasgenoemde beklemtoon nietemin in watter mate Suid-Afrika aan ongestadigheid in die internasionale finansiële markte uitgelewer is.

Die kongres het geen klarigheid gebring oor wanneer ’n moontlike afgradering sal plaasvind nie, maar gegewe die agteruitgang in die fiskale dinamika en hoe vinnig die skuld/BBP-trajek steiler neig, is daar ’n wesenlike risiko dat die vooruitsig afwaarts aangepas sal word van stabiel tot negatief wanneer November se oorsig gepubliseer word. Dit is noodsaaklik dat die regering vinnig hervormingsmaatreëls in werking sal stel wat groei bevorder en die land se strukturele haakplekke uit die weg ruim ten einde die mediumtermyn-groeipotensiaal te ondersteun.

Verder moet maatreëls getref word om die totale skuld/BBP-verhouding te stabiliseer. Sodanige maatreëls sal na ons mening werkbare omkeerplanne vir staatsondernemings moet insluit.

Ten slotte

Terwyl die markte plaaslike bates ’n tyd gelede laer aangeslaan het om die land se gradering van onder beleggingsgraad te weerspieël, soos blyk uit die stewige risikopremie op staatseffekte en groter spreiding op kredietwanbetaling-ruilooreenkomste, sal dit nogtans vir die ekonomie sowel as beleggersentiment gevolge hê as Moody’s die land se kredietgradering uiteindelik tot rommelstatus afgradeer. Dit lyk asof Moody’s in die truspieël kyk in sy beoordeling van onderliggende fundamentele faktore, veral wat fiskale en ekonomiese maatstawwe betref – wat natuurlik meebring dat hy met sy kredietontleding die agteros is. Die risiko is miskien mees tersaaklik vir maatskappye, want hul kredietgraderings neig om in pas met dié van die land te verander. ’n Gradering van onder beleggingstatus vir Suid-Afrikaanse maatskappye sal nie alleen die koste van hul skuld hoog hou nie, maar ook hul toegang tot kapitaal belemmer. Korporatiewe Suid-Afrika is reeds onder groot druk en om nog wind van voor te kry, sal hul winsgrense verder knou en die risiko van nog afleggings vergroot.

The post Alhoewel Moody’s geduldig bly, span die skuldstrik waarin Suid-Afrika sit ál stywer appeared first on Sakeliga.


Ander nuus