DTI wil BEE in handelsbeleid afdwing

Jul 19, 2019

Deur Gerhard van Onselen: Senior Ontleder  – Sakeliga

Minister Ebrahim Patel van die departement van handel en nywerheid (DTI) se onlangse begrotingsrede dui op nog ’n manier wat na vore kom om BEE in Suid-Afrika af te dwing.

Dit blyk die DTI beplan nou om “transformasie” ’n verdere vereiste te maak waaraan plaaslike maatskappye moet voldoen wanneer hulle by die regering se Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) om handelsverligting (bv. tariewe op mededingende invoerprodukte) aansoek doen.

Mnr Patel word soos volg aangehaal: “Ons [die DTI] sal ons handelsbeleid herfokus sodat tariefverligting wat aan plaaslike maatskappye gebied word, gepaardgaan met ’n duidelike, afdwingbare verbintenis daartoe om meer te investeer, uitset te verhoog, werk te skep en te transformeer.”

Dit vorm deel van wat die regering as “ontwikkelingshandelsbeleid” beskryf, wat handelsintervensies as maatreëls wil aanwend om sy aksieplan vir nywerheidsbeleid (IPAP) te ondersteun.

In ’n DTI-direktief (cf. p.4) van 2016 wat minister Patel self aan ITAC uitgereik het, is daar van maatskappye wat om “handelsverligting” aansoek doen, vereis dat hulle “ondernemings aangaan” oor “investering”, “uitbreiding” en “werkskepping” ten einde vir tariewe op mededingende invoerprodukte te kwalifiseer.

ITAC is deur minister Patel versoek om die ondernemings wat die applikante gee ‘te verdiep’ en te ‘monitor’ hoe hulle hul ondernemings gestand doen.

Te oordeel na minister Patel se opmerking in die begrotingsrede van Junie, wil die DTI nou transformasie, waarskynlik gemeet deur die lens van BEE, byvoeg as ’n verdere voorwaarde vir beskermende tariewe en handelsremedies.

Nogal verbasend is dat dié twee-vir-een-beleid, wat anti-vryemark is, blykbaar daarin slaag om markvryheid met een intervensie twee keer te beperk:

Eerstens deur die oplegging van invoerbelasting self en tweedens deur dwangmaatreëls genaamd “afdwingbare ondernemings” in te stel wat kommersiële vryhede inperk en koste byvoeg deur maatskappye aan die rompslomp van die staatsmasjien se BEE te bind.

Om so ’n voorneme om transformasie, wat ons aanneem BEE beteken, deur middel van tariewe af te dwing, sal die DTI se veldtog vir ’n strenger en omvangryker afdwinging van BEE net verder uitbrei.

Die DTI se handelsagentskappe pas reeds handelsremedies op ’n sogenaamde geval-vir-geval-grondslag toe, wat mens kan redeneer dit bra arbitrêr maak. OM BEE by die mengsel te voeg, kompliseer die saak natuurlik nog verder en gee burokrate net ’n groter sê oor die handel en vrye ondernemerskap.

The post DTI wil BEE in handelsbeleid afdwing appeared first on Sakeliga.


Ander nuus