Die Ramaphosa-administrasie moet die drif van regulering stuit vir doeltreffende ekonomiese hervorming

Jul 24, 2019

Gerhard van Onselen, Senior Ontleder: Sakeliga

Soos opwenspeelgoed wat vooraf opgewen en nou losgelaat is, stu ’n klompie kwasi-geregtelike agentskappe voort om  die doeltreffende funksionering van ’n vryemarkekonomie en kommersiële vryhede in Suid-Afrika te vertrap.

Dié agentskappe het ’n goeie mate van onafhanklikheid, wat aan verskillende regsmandate ontleen is. Tesame vorm hulle ’n goed gevestigde netwerk wat by die werking van die mark inmeng en dit aan bande lê. Natuurlik kan die optrede van dié agentskappe in die hof betwis word, maar merendeels gebeur dit min.

Hul optrede en besluite het nogtans ’n diepgaande invloed op die alledaagse handelsomgewing en besluite oor entrepreneurskap, belegging en indiensneming. In die algemeen maak dié agentskappe dit moeiliker en die koste duurder om waarde te skep as wat nodig is.

Vir veronderstelde hervormers, soos president Cyril Ramaphosa, is dit die voetsoolvlak-werkinge van dié agentskappe, en die hekkies wat dit in die pad van waardeskepping plaas, wat gestuit moet word voordat doeltreffende ekonomiese ‘hervorming’ kan plaasvind.

Voorbeeld van die nuwe BEE-kodes

Die departement van handel en nywerheid (dti) het onlangs nuwe wysigings aan die generiese B-BBEE-kodes gepubliseer. Hierdie wysigings tree in November vanjaar in werking. Die veranderings aan die kodes, asook onlangse verklarings deur die B-BBEE-kommissie, staaf wat organisasies soos Sakeliga geruime tyd reeds voorspel het, naamlik dat ’n strenger toepassing van BEE in die vooruitsig is.

Volgens die regsfirma Webber Wentzel, wat onlangs die noemenswaardige veranderings aan die kodes uitgestippel het, beïnvloed die wysigings die generiese telkaarte (kodereeks 000), vaardigheidsontwikkeling (300) en verskafferontwikkelings (400).

Strenger eienaarskapsvereistes word aan mikro-ondernemings (EME’s) en kwalifiserende kleinondernemings (QSE’s) gestel om as vlak 1- en vlak-2-ondernemings erken te word. Vlak 1 en vlak 2 is toenemend belangrik om met staatsentiteite sake te doen.

Verder is die maatstaf vir vaardigheidsontwikkeling aangepas en sluit dit nou ’n sub-element vir besteding aan beurse vir swart studente in (wat interessant is, gegewe die veldtog vir gratis hoër onderrig).

Die vereistes vir ondernemings- en verskaffersontwikkeling is duideliker en ook strenger gemaak. Dié bepalings beïnvloed maatskappye se aankoopbesteding, wat ’n beduidende ekonomiese aktiwiteit uitmaak.

’n Voorafbepaalde pad van oorregulering

Die rigting wat die nuwe BEE-kodes inslaan, dui egter op ’n sorgwekkender realiteit. Dit wys dat die huidige regering se reguleringsroete grootliks vooraf uitgewerk en klaarblyklik na meer ekonomiese reglementering op koers is – ondanks die president se oproep om sakevriendelike beleidsveranderings.  Dit laat vrae ontstaan oor die regering se eintlike verbintenis tot wesenlik markvriendelike hervormings.

Dit suggereer op onrusbarende wyse die moontlikheid dat die Ramaphosa-administrasie se hervormings grootliks op vertoon neerkom en dat die onderliggende struktuur van skadelike ekonomiese reglementering en ingryping nie daadwerklik verminder sal word nie.

Watter vorm neem dié onderliggende struktuur aan? Klaarblyklik is talle van die ANC se idees oor beleid, soos swart ekonomiese bemagtiging (BEE) en gelyke indiensneming (EE), sowel as sy beskouing oor die kwessie van mededinging, vooraf neergelê en aan ’n aantal kwasi-geregtelike agentskappe uitgekontrakteer.

Op talle ekonomiese terreine gaan regulering ongebreideld voort en word dit deur gevestigde belange in stand gehou. ’n Koersverandering sal beduidende wysigings aan verskeie stukke wetgewing en uiters sterk politieke wil vereis.

Kwasi-geregtelike agentskappe – die gesig van die reguleringsomgewing

Agentskappe soos die B-BBEE-kommissie, die Kommissie vir Gelyke Indiensneming (CEE), die Mededingingskommissie, die nuwe Kommissie vir die Nasionale Minimum Loon, en ander, pas die regering se beleide toe en lê vir die handelswêreld talryke ‘reëls’ neer. Hulle doen dit binne hul ruimskoots gedelegeerde, kwasi-geregtelike magte.

Die ANC-regering het duidelik oor baie jare heen regulatoriese ‘franchises’ ingestel. Die veldtog om hierdie regulatoriese raamwerk uit te bou, is nog nie verby nie.

Kwasi-geregtelike agentskappe bepaal en beïnvloed die handelstoneel in Suid-Afrika. Die nuwe BEE-kodes is maar een voorbeeld, om van die talryke ‘bedryfsooreenkomste’, mynbouhandveste, loonvasstellings, samesmeltingsreëls en ander afdwingbare bepalings nie te praat nie. Verskeie agentskappe, soos die Raad op Eiendomsagentskappe, lê die vereistes vir lisensiëring, registrasie of goedkeuring vir kommersiële bedrywighede neer.

In die praktyk oorweeg die BEE-kommissie nou boetes vir nie-nakoming. Die kommissie kan ook dagvaardings uitreik en oor BEE-transaksies beslis. Sy jongste verklaring bring planne aan die lig om harder toe te slaan op die breedweg definieerbare misdryf van ‘frontvoorhouding’. Dit word oënskynlik deur die B-BBEE-kommissie se onlangse beslissing oor MTN se beweerde nie-nakoming van B-BBEE-wetgewing bevestig.

Alle aanduidings is dat MTN se bona fide-bemagtigingspogings met ’n ingrypende skending van sy korporatiewe onafhanklikheid begroet is. MTN moet nou die knie buig voor die kommissie of die gevaar loop van vervolging en ’n aanbeveling by ICASA, nog ’n kwasi-geregtelike agentskap, dat sy bedryfslisensie opgeskort word.

Kortom, die B-BBEE-kommissie tree met ’n aansienlike mate van kwasi-geregtelike gesag op, maar hou toesig oor en gee betekenis aan ’n taamlik arbitrêre versameling wetgewing.

Die Kommissie vir Gelyke Indiensneming (CEE) beplan eweneens om sy aanslag op die markekonomie te versterk. Sy jaarverslae oor die nakoming van EE-wetgewing is oor jare heen oortuigend gekritiseer  en selfs sleggesê deur die ontslape Paul Joubert, voormalige senior navorser by die vakbond Solidariteit. Tog kom die CEE nou met aanbevelings vir nuwe maniere waarop die regering die regulering van gelyke indiensneming kan verskerp.

Miskien nog belangriker is dat die CEE reëls daarstel vir die meting van en verslagdoening oor EE, wat duidelik ’n invloed het op aanstellingspraktyke oral in die ekonomie – nie ’n geringe ekonomiese aangeleentheid nie.

Die nuwe opkomeling-franchise, die Kommissie vir die Nasionale Minimum Loon, is nog ’n entiteit wat nou bindende reëls neerlê, in dié geval vir lone landwyd – ook nie ’n geringe invloed in die ekonomie nie.

Van al hierdie agentskappe beskik die Mededingingskommissie en die Mededingingstribunaal bes moontlik oor die wydlopendste regsgesag. Die Mededingingskommissie keur byvoorbeeld samesmeltings tussen sakeondernemings goed of af en kan ook voorwaardes vir sodanige samesmeltings neerlê.

Aangespoor deur die groter gewig van openbare belang danksy die jongste wysigingswet op mededinging, kan die Mededingingskommissie nou op die kontraktuele ooreenkomste tussen maatskappye voorwaardes stel vir die goedkeuring van samesmeltings.

Die kommissie kan dit doen wanneer sodanige voorwaardes na sy mening kleinsakeondernemings en swart sakeondernemings tot voordeel strek – BEE wat nou deur mededingingsbeleid opgelê word. Dat die regering sake op dié wyse dikteer wanneer dit by verskaffers en selfs die bepalings en voorwaardes van kontrakte kom, is nie ’n stap na markvryheid nie.

Eie belang of openbare belang?

Vreemd genoeg sal baie mense wat met ’n mate van agterdog kyk na handelsonderneming se geneigdheid om in eie belang op te tree, nie dieselfde agterdog teenoor regeringsagentskappe en -entiteite toon nie. Hierdie agentskappe en entiteite sal die openbare belang natuurlik vertolk as min of meer in lyn met hoe die ANC redeneer.

Voorts is dit nie onredelik om te verwag dat enige menslike entiteit, regeringsagentskappe ingesluit, hul eie belange sal dien nie.

Hou sou optrede in eie belang deur ’n kwasi-geregtelike agentskap daar uitsien?

Sou sulke agentskappe geneig wees om meer invloedryk of minder invloedryk te wil wees, of ’n groter of kleiner begroting te wil hê?

Wanneer sou hul ooit hul eie mandaat bevraagteken?

Dit is nogal waarskynlik dat sulke agentskappe voorspraak sou maak vir sterker posisies, lywiger begrotings en groter invloed. Mens moet veral nie verbaas wees as sulke agentskappe vernuwende maniere probeer vind om aan die gang te bly en hul projekte uit te brei nie.

’n Wetsvoorstel in die wysigingswetsontwerp op toerisme illustreer nogmaals hoe die huidige vlaag regulering wegbeweeg van mark- en kommersiële vryhede na groter reglementering deur die burokratiese klas. Die wetsontwerp is bedoel om aan die minister van toerisme die vermoë te gee om ‘drempels’ te stel vir Airbnb-verhurings en die staat se toerismeliggame daardeur te bemagtig.

Sal die drif van regulering gestuit word?

’n Administrasie wat waarlik hervormingsgesind is, sal die huidige reguleringsgeneigdheid moet stuit om ’n gesonde ekonomie te kan bou. Gegee die beduidende ideologiese traagheid wat bestaan, sal dit waarskynlik egter ’n opdraande stryd wees om ware hervorming te bewerkstellig.

Om die Suid-Afrikaanse ekonomie waarlik te hervorm, sal meer vereis as ’n blote herrangskikking van die dekstoele deur ’n rondskuif van bestaande subsidies, ingrypings, agentskappe en wetgewing.

Hervormings wat die gemak (en koste) waarmee sake gedoen word, waarlik en betekenisvol sal verbeter, sal vereis dat ernstige heroorweging geskenk word aan die huidige vlaag regulering, wat vooraf geprogrammeer is om selfs nog meer hekkies vir die handelswêreld op te rig.

Hervormings moet verder strek as om net die bestaande burokrasie en ingrypings te stroomlyn.

Hervormers moet die werkinge van die talryke reguleringsagentskappe ernstig heroorweeg en die wette afskaal wat die toenemende getal struikelblokke vir vrye ondernemerskap en entrepreneurskap in stand hou.

Vertaal vir Sakeliga. Eerste gepubliseer op Politicsweb

The post Die Ramaphosa-administrasie moet die drif van regulering stuit vir doeltreffende ekonomiese hervorming appeared first on Sakeliga.


Ander nuus